20 dae gelede
Ons het ook erfenis
VAT HANDE: Dewald Jacobs se gedig vier Erfenisdag.  ~ Foto ter illustrasie

MY WOORDE is soos ’n verfkwas

wat ons mense se stories in skilder

op die wit geskiedenis-verfdoek

in die hande van hom met mag

wat oral regoor die land

dit sou bekend maak

dat die verf waarin my kwas nou skryf

op ’n tyd nie so lank gelede

slegs vir blankes was

Afrikaans, die kreatiewe, lewegewende gees

wat die skeidingsmure sou afbreek

van ’n diverse gemeenskap in slawerny

in die Kaap-kolonie van dorre bene

waar die taal lewe gevind het

soos die kos van ’n auntie van die Kaap

met ’n verskeidenheid van allerlei spesery

Duits, Maleis, Portugees, Indonesies,

Khoi, Nama en San

’n nuwe aroma van geure vanuit een enkele pan

tog selfs dit het die Baas probeer wegneem

en toegeëien as sy eie kosbare stukkie goud

wat eens die taal kon wees van vryheid

word toe die onderdrukkende taal van apartheid

maar ons skryf steeds, want ons lewe steeds

ons het by ons oumas en ons oupas geleer

al lewe ons steeds vandag duskant van die muur

het ons ook ? erfenis om te vier

want ons weet

ons lewens is die ewige bron van weerstandsliteratuur

– Digter van Israel

  • Dewald Jacobs is ’n teologie-student aan die Universiteit Stellenbosch
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters