Verlede maand
Onnie sing en leef voluit
LIEFDE: Germaine en Jasmene op hul troudag.Foto’s: FACEBOOK  ~ 

DIE jazzkitaarspeler Germaine Leo­nard is nie net onlangs getroud nie, hy het ook aan ’n enkelsnit gewerk.

“Fallen Heroes” word binnekort bekendgestel.

Germaine, ’n musiek-onnie van George, kom oorspronklik van Manenberg. Dis op die Tuinroete waar hy sy vroulief, Jasmene, ook ’n musiekonderwyser, ontmoet het.

“My single is geïnspireer deur wyle Errol Dyers en ek bring hulde aan sy nalatenskap. Ek dra dit ook op aan almal wat die afgelope twee jaar ’n geliefde verloor het.”

Oor die lied verduidelik hy: “Dit lok ’n diepe emosie van verlange en herinnering van ’n geliefde en dwing jou tot stilstand om eer te toon aan jou geliefdes.”

Hy het by sy huis ’n studio ingerig waar hy sy musiek opneem.

“Ek stuur dan my opnames aan my musiekregisseur en só kommunikeer ons maar tot almal gelukkig is om die eindproduk te hê.”

Germaine sê die maklikste deel van die lied was die skryfproses omdat hy uit ’n diep emosionele plek geskryf het.

“Ek is baie in touch met my emosies en volg my hart. So, ek skryf maar uit my hart en nie wat op die mind is nie. Ek reken musiek moet jou diepste emosies wakkermaak.”

Hy leef volgens sy godgegewe doel en dit is ook die dryfkrag wat hom soggens laat opstaan.

“My doel pas ook mooi in met my werk by die skool, waar ek die volgende generasie musikante kan help.

“Dan is daar natuurlik my vrou, wat my inspirasie en ondersteuning is.”

Tussendeur die musiek maak die pasgetroudes tyd om saam te fliek of net op road trips te gaan en te ontspan.

“Die laaste paar maande was vir my ’n restart. Ek het sekere dinge en mense in my lewe vir granted gevat en moes bely en regmaak. Nou strewe ek om beter te wees.

“My advies aan ander is: Handhaaf ’n gesonde gebedslewe en omring jouself met mense wat jou drome ondersteun.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters