Verlede maand
’n ‘Tyd vir eenheid’
VAT HANDE: Elsimio Smit, Jessie Lottering en Siya Dikana het saamgewerk aan die nuwe lied “Ek Is by Jou”.  ~ Foto Verskaf

“ONS het nooit beplan om saam te werk nie. Ons is vriende wat saam musiek wil maak.”

Só vertel die gospelsanger Elsimio Smit, beter bekend as Dimmy in Uitenhage se musiekbedryf.

Die kunstenaar het net voor die lockdown na Johannesburg verhuis om die beter geleenthede in die Goudstad te benut.

“Dinge het net in plek begin val. Kyk, die mens beplan sy pad, maar God beplan hoe dit loop.

“So, alles wat ons aanpak, doen ons onder die leiding van die Heilige Gees.”

Smit sê hulle doen niks uit hulself nie, want hulle luister na die stem van die Here.

Smit vertel hy het in dié tyd die lied “Ek Is by Jou” geskryf.

“Die lied handel daaroor dat die Here deur dié moeilike tye by ons is en dat Hy ons nooit sal verlaat nie.

“God is altyd daar. Dit is ’n belofte.

Bevoorreg

“Die Here het die lied in ’n droom vir my gegee.

“Ons is so bevoorreg om met die talentvolle vervaardiger Siya Dikana saam te werk en die gesalfde gospelsangeres Jessie Lottering feature ook op die lied.

“Dit is ’n baie moeilike tyd vir ons musikante. Nou is die tyd om saam te staan.

“Ons is nie in kompetisie met mekaar nie; ons moet mekaar komplementeer en celebrate.

“Ons is dankbaar om nog te lewe, want baie het dit nie gemaak nie. Die Here se genade is genoeg.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters