28 dae gelede
Musiek is sy roeping
GEMOTIVEERD: Donovan sê dit help nie ’n mens sit in ’n hoekie en kry jouself jammer nie.  ~ Foto Verskaf

HY WOU nog maar van altyd af musiek maak.

Donovan Isaacs se naam sal vir sommige bekend klink, want hy het in 2007 aan Supersterre deelgeneem en dit tot in die topvier gemaak.

Dit was egter nie sy eerste kompetisie nie. Hy het in 1999 aan ’n Tehila-sangkompetisie deelgeneem en gewen en in 2002 het hy ook Radio Kansel se Jubilate-sangkompetisie gewen.

Die boorling van Keetmanshoop in Namibië het in 1997 met sy familie na Mier in die Kalahari verhuis. Hy het sy hoërskoolloopbaan aan AJ Ferreira Sekondêr in Upington voltooi voordat hy in 2001 drama en musiek in Pretoria gaan studeer het.

Donovan het toe in 2002 sy eerste album uitgereik en in 2004 het hy as polisiebeampte begin werk.

Dit was egter nie lank nie, toe besef hy dis nie vir hom nie en hy wil liewer sang sy loopbaan maak.

In 2005 het hy sy tweede album uitgereik en nou maak hy gereed om sy derde album, Waarlik Vry, volgende jaar die lig te laat sien.

Donovan vertel dat Waarlik Vry eintlik deur die Covid-pandemie geïnspireer is.

“Veral die tyd toe geen optredes kon plaasvind nie,” sê hy.

“Die pandemie het baie in die bedryf onkant betrap en hard geslaan.

Dankbaar

“Ek moes vinnig dink om die pot aan die kook te hou. Terwyl ek self siek was met die virus het ek besluit om nie net te lê nie, maar om liedjies in geloof te skryf en te vertrou op die Here.”

Die album sluit 10 snitte in en die 41-jarige is net dankbaar dat hy nog ’n kans het om musiek te maak.

Van die ander liedjies sluit in “U Is My Vriend”, “Groter Is Hy”, “With You” en “U Alleen Regeer”.

Donovan sê: “Ek het jare gelede musiek my roeping gemaak, maar nou net weer besef ek kan nie op musiek alleen staatmaak nie en moet ook ’n werkie kry.”

“Dit help egter nie ’n mens sit in ’n hoekie en kry jouself jammer nie. Ek het op die Here vir ’n uitweg vertrou en deur geloof kon ek ’n ateljee begin in my huis. Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.”

Donovan woon tans in Upington en noem hy is nog ’n alleenloper, maar darem ook gereed vir ’n maatjie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters