16 dae gelede
Kunjalo wil inspireer met nuwe enkelsnit
NUWE DINGE: Kunjalo besig met ’n opname in die studio.Foto: Facebook  ~ 

IN DIÉ onseker tye soek baie mense na ’n bietjie inspirasie.

Bishop Manny van Niekerk, leier van die gospel-groep Kunjalo, vertel dis wat hulle poog met hul nuutste enkelsnit.

Daniel Titus het “Hy Maak ’n Weg” geskryf om mense nuwe moed te gee.

Van Niekerk sê: “As ons terugkyk op die jaar, dan kan ’n mens werklik net verklaar die Here het ’n weg gemaak.

“Die feestyd is ’n tyd vir vrede en liefde. Dis waarom dit my wens is dat almal in dié tyd, veral in die pandemie, naasteliefde sal betoon.

“As jy sien dit gaan nie goed nie of iemand sukkel, laat ons uitreik in liefde en mekaar ondersteun.

“So wys ons aan die wêreld dat ons Jesus se dissipels is wat liefde met mekaar deel.”

Van Niekerk voeg by hy het in die lockdown-periode net weereens besef hoe ons mekaar moet waardeer, aangesien die lewe kort is.

“Ja, dis maar moeilik om by die huis te bly, maar laat ons eerder nou opofferings maak sodat ons almal kan voordeel trek.

“Soos die lied sê: ‘Jy moet moed hou in jou storm, en jy hoef nie te vrees en moet nie twyfel nie’.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters