3 maande gelede
Kerk steier onder Covid
REAKSIE: Kerkdienste is gestaak en lidmate word via sosiale media bemoedig..  ~ Foto Verskaf

DIE sterfte en positiewe toetse van baie lidmate het ’n baie traumatiese uitwerking op ’n kerk aan die Weskus.

Ds. Pedro Oktober van die VGK Vredendal vertel dit is omdat niemand toegelaat word om persoonlike besoeke aan sulkes en hul onmiddellike gesin te kan aflê nie.

Sy gemeente het binne sowat twee weke nege lid­mate aan die virus afgestaan.

Hy voeg by: “Wat ons ervaar, is ons mense se moedeloosheid, verslaenheid, vrees en paniek.

“Dis nie net in die gemeente nie, maar die breë Matzikama-gemeenskap.”

Bemoedig

Oktober noem dat hulle hul kerkdienste moes staak om die verspreiding van die virus te bekamp en sterftes te beperk.

“Lidmate word dus via die so­siale media bedien en met boodskappe bemoedig.

“Ons mense staan nou weer op uit daardie neerslagtigheid en begin weer hul lewe bymekaar kry. Dit is maar moeilik en ’n tyd van hartseer vir baie.”

Die godsman noem dat hy self ook positief getoets is en hom in die pastorie moes isoleer.

“Kyk, ek was baie siek en daar was tye dat ek selfs gedink het ek gaan dit nie maak nie. Maar die genade van onse Here is groot.”

Oktober sê ernstig: “As ons leer om binne die Covid-reëls te bly en dit te gehoorsaam, sal daar nie so baie gevalle wees nie.

“Ons kerkleiers moet ook harder uitsprake hieroor maak. Veral teenoor ons lidmate en plaaslike gemeenskappe. Dan kan ons die gety laat platval. Só help verminder ons gevalle en kry dinge onder beheer.”

Hy voeg by: “Ons moet almal ons gedrag, houding en verantwoordelikheid teenoor mekaar verander. Dan sal meer lewens veilig en gespaar wees van die corona-virus.”

Oktober herinner ons dat ons ook verby dié storm sal kom.

“Dit sal ook verbygaan. Dan kan ons weer met hoop lewe en die trane en pyn van nou met lag in vreugde, vrede en blydskap vervang.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters