18 dae gelede
‘Kerk het oplossing vir elke uitdaging’
Covid-19 test
Kerkleiers sê hulle is slaggereed vir die uitdagings in dié ongekende tye.  ~ Foto ter illustrasie: Tang Ming Tung

“AS KERK is ons slaggereed – en ons het ook ervaar dat daar in die tydperk meer jeugdiges kerk toe gekom het.”

Só vertel Pastoor Julian Claassen van die House of Mercy-kerk in Mitchells Plain.

“Daar het meer ’n hunkering plaasgevind na die geestelike, veral in die grendeltyd. Toe die president aangekondig het die kerk is weer oop, het ons onmiddellik weer die deure oopgemaak en die dienste het ’n dieper dimensie ervaar.

“Ons het binne die regulasies gebly. So, wat ook al die regering voorstel, ons sal aanpas by die kerk.”

Claassen wei uit: “As jy wegbly van die kerk, kan jou liefde en passie verkoel, maar by die kerk is die oplossing vir elke uitdaging en situasie.

“So, moet nie vir ’n lang periode wegbly van die kerk nie. Nóú is die tyd dat ons saamstaan in krisistye en volhard in geloof.”

Dominee Johan Louw van die VGK in Pacaltsdorp vertel op sy beurt toe die minister van gesondheid die aankondiging gemaak het oor die derde vlaag, het hulle gereed gemaak en gesorg dat alle regulasies in plek is.

Gemeenskap

“Die kerk gaan sy lidmate oproep om nie paniekbevange te raak nie, maar ons volg steeds die riglyne wat daar gestel is deur die regering.

“Die uitdagings van die kerk is om steeds betrokke te wees by die behoeftes van sy gemeenskap. Byeenkomste waar daar groot risiko’s is, sal tydelik afgeskaf word totdat die krisis oorwaai.” – Gregory Noble

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters