2 maande gelede
Jong vrou volg roeping van Bo
vol kleur: Ds. Farren Watt gesels oor haar reis as vrouedominee. foto verskaf  ~ 

DIS nie aldag dat jy ’n pragtige dominee met rooi lippe en naels, kleurryke skoene en ’n flambojante persoonlikheid sien nie.

Maar ds. Farren Watt (26), ’n boorling van Springbok, het die roeping gevolg wat die Here op haar hart gelê het.

Dié dominee, wat byna twee jaar in diens is van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) Lambertsbaai, vertel sy wou nie altyd ’n dominee word nie.

“Ek wou eers ’n prokureur word, maar ongelukkig kon ek nie by daardie program inkom nie. Ek het toe maar in 2014 aan die Universiteit Stellenbosch vir teologie aansoek gedoen.

“Ek is ingelig dat ek my krediete kan opbou en in my tweede jaar aansoek doen om regte te swot. My tweede jaar het gekom en ek het maar weer vir teologie aansoek gedoen. My derde jaar het gekom en ek het weer met teologie voortgegaan.

“Dit is toe dat ek besef het dat dit my roeping is. Ek was eers ongehoorsaam. Ek het toe ernstig geraak oor teologie en my roeping gevolg.”

Ds. Watt maak oop oor die vele uitdagings wat sy ervaar het toe sy haar loopbaan as vrou in die bediening begin het. Sy was 24 jaar oud toe sy as dominee bevestig is.

“Baie vroueleraars kan met my saamstem dat dit vir lidmate moeilik is om vroue op die kansel te sien staan.

“Die eerste jaar was ’n baie groot uitdaging. Ek as Namakwalander en die mens wat ek is... Met my rooi lipstick en verskillende kleure skoene en my persoonlikheid, was dit maar ’n aanpassing.

“Nie net van my kant af nie, maar ook vir die gemeente. Die leraar wat voor my daar was, was baie lank daar. Hulle het ’n kans gevat om ’n vrou te beroep en toe was dit nog ek ook. So, dit was maar ’n leerskool vir my sowel as die gemeente. Ons moes baiekeer mekaar in die middel ontmoet.”

Maar die pragtige dominee vertel binne die twee jaar het sy en haar gemeente ’n hegte band ontwikkel.

“Nou in my tweede jaar in Lambertsbaai het ons ’n goeie verstandhouding. Hulle aanvaar my vir wie ek is en hulle is baie lief vir my en ek vir hulle.”

  • Ons gesels volgende week weer lekker met ds. Watt, so kyk uit daarvoor!
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters