2 maande gelede
Jez en Ernie sing saam
doen gospel: Ernie Smith se lied “Jesus I Need You” is onlangs uitgereik. foto’s verskaf  ~ 

JULLE ken hom vir die hit single “Lonely”.

Maar nou sing die talentvolle en veelbekroonde musiek­regisseur en liedjieskrywer Ernie Smith gospel­musiek en wy sy lewe voltyds daaraan om verlore siele met lof-en-aanbiddingsmusiek na die Here te lei.

Smith het pas sy nuutste single, “Jesus I Need You”, in samewerking met die nuweling Jezreah Neethling uitgereik. Hy is opgewonde oor dit wat die Here tans deur sy nuwe musiek doen.

Smith toer gereeld met The Jesus Collective. Dit is ook waar hy vir Neethling ontmoet het.

Hulle het dadelik danksy musiek gekliek.

Smith sê hy het geweet sy is die perfekte sangeres wat die lied uit die hart sal bedien.

Hy het die liedjie self geskryf en ook die musiekverwerking gedoen.

Verlange

“Jez se liefde vir God is diep gewortel en haar hart is geanker alleen vir Jesus. Haar stem het perfek gepas,” verduidelik Smith.

“In die lied verwoord ek my hart se verlange dat ons nader sal kom aan God en God eerste sal stel in ons lewe. Dit is soos die woorde van die lied lui.”

Neethling wei op haar beurt uit deur te sê dit was nog altyd haar droom om met die legendariese musikant saam te werk.

“My grootste droom is ook nog om die verhoog eendag met die Amerikaanse gospelsanger Jonathan Mc­Reynolds te deel.

“My bediening is alles net die genade van die Here en om my roeping en doel uit te leef.”

Pragtige stem: Jezreah Neethling sing die gospellied “Jesus I Need You” saam met Ernie Smith.

Neethling, wat self ook ’n sangeres van die gospelgroep The Jesus Col­lective is, wil mense deur haar musiek inspireer – veral deur lof-en-aanbiddingsmusiek.

Hulle reik gereeld na die gemeenskap uit en bring hoop. Hulle verkondig dat Jesus nog red en genees.

“Jesus I Need You” is op digitale platforms beskikbaar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters