7 maande gelede
Henoline vertrou God
VOL VREUGDE: Henoline Goeieman is opgewonde oor haar lied “Vertrou My”.  ~ Foto Verskaf

“ELKE probleem het ’n vervaldatum en al woed die storm hewig, dit sal ook verbygaan.”

Dít is die bemoedigende woorde van Upington se gospelsangeres Henoline Goeieman, wat opgewonde is oor haar nuutste single.

Die lied “Vertrou My”, waarin die saxofoonspeler Germano Moses feature, is ’n lied wat baie gepas is in die tyd waarin ons ons nou bevind.

Goeieman verduidelik sy het deur ’n baie moeilike tyd gegaan en sy moes op die Here vertrou vir uitkoms.

Sangtalent

“In ’n week het God vir my magtig deurgekom. Hy maak ’n weg as jy stil word in jou stryd.”

Sy verduidelik dat sy haar sangtalent van haar pa se kant gekry het.

“Ek was 10 jaar oud toe my ma eers my pa en daarna haarself deur die kop geskiet het. Dit was ’n baie tragiese gebeurtenis in my lewe en ek moes op die Here vertrou vir herstel en genesing.

“My pa was ’n sanger en hy kon nie sy loopbaan voortsit nie, daarom het ek besluit om die werk van die Here voort te sit.”

Die sangeres tree ook Paassondag in die Bet-El Kerk De Rust op.

“Paasfees beteken vir my baie, want dit is die tyd toe ons vrygekoop is deur die bloed van Jesus.

“As dit nie vir die kruisiging was nie, sou ons vir ewig verlore gewees het, maar God het ons so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gestuur het tot redding van ons kosbare siele.”

Die Pinkster Protestantekerk, in samewerking met DNC Sound, bied Die Goeie Samaritan-konsert op 4 April in die PPK Bet-El De Rust se saal aan.

Nathan Lewendal, Melowcine Olifant, Gregory Corne­lius en Maartin Kwaieng gaan saam met Goeieman op die verhoog wees.

Die MC is Fernando Fredericks.

Die show begin 17:30 en kaartjies kos R50 (enkel) en R80 (dubbel).

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters