23 dae gelede
Gospelman wil land genees met splinternuwe enkelsnit
NUWE SINGLE: Ricardo Burnett wil hê mense moet glo alles is moontlik.  ~ Chezlyn Julius

DIE gospelsanger Ricardo Burnett hoop sy nuwe single­, “Believe”, sal mense laat besef alles is moontlik as jy glo.

Burnett is oortuig “soos jy glo, so sal dit met jou wees”.

Hy dink ook ’n mens “moet nooit toelaat dat die opinie van ander jou definieer nie.

“As jy ’n droom het, werk hard. Met toewyding kom sukses.”

Burnett sê verder: “Ek is dankbaar dat ek nog aan die kant van die lewendes is. Dis alles genade van Bo.

“Ek is baie lief vir God en mense en dis die begeerte van my hart dat my musiek mense se lewe sal inspireer.”

Sy seun, Jude Burnett, is sy dryfkrag en inspirasie.

Saamstaan

“Wanneer ek ’n af dag beleef, is dit die glimlag van my seun wat my die moed gee om aan te gaan.”

Burnett sê in die lockdown het hy geleer hoe nodig ons mekaar het. Hy glo as ons hande vat en saamstaan, sal die wêreld ’n beter plek wees.

“Ek weet vir seker daar is altyd lig aan die einde van die tonnel. Elke probleem het ’n oplossing.

“Die pyn in die lewe is deel van ons getuienis. Dit maak ons sterker en bou karakter.

“Dis die begeerte van my hart dat die land deur my musiek genees kan word.

“Om ’n kunstenaar te wees is nie altyd maklik nie, veral as jy nuwe musiek wil uitreik – die finansies bly altyd ’n uitdaging.”

Maar waar ’n wil is, is altyd ’n weg. Kontak die kunstenaar gerus by 073 859 9545 vir info­. – Gregory Noble

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters