11 dae gelede
‘God my kragbron’
bly hoopvol: Kanker is by Linzel Selindia Cloete gediagnoseer. Foto: facebook  ~ 

“DIS vir my swaar. Ek huil elke dag. Dit is ’n uitdaging om net deur die dag te kom.”

Só sê Linzel Selindia Cloete van Koingnaas in Springbok. In 2015 is borskanker by haar gediagnoseer en in 2018 longkanker.

Tog bly Cloete hoopvol. “Die Here is my rots en bergvesting, die anker wat my nog elke dag dra. Dit is alles net genade van Bo.

“Wanneer dit voel alles word te veel, dan kom die stem van die Here en gee my soveel kalmte en ’n vrede wat alle verstand te bowe gaan.”

Cloete het mensehulpbronne-bestuur studeer. Toe sy siek word, het haar lewe heeltemal verander.

“Ek is so dankbaar vir my man en die familie en vriende wat by ons staan.

“Dit is nie ’n maklike pad nie, maar die Here is elke dag my bron van krag.

Genesing

“Ek sal nooit vergeet nie: Die dag van ons troue was ons verras toe die gospelsanger Neville D vir ons die lied ‘Nuwe Dinge’ kom sing het.”

Cloete sê sy vertrou op God vir genesing.

“Die begeerte van my hart is dat God my volgens sy wil gesond sal maak. Daarom berus ek elke dag van my lewe in Hom.

“Die stryd met kanker het geweldige uitdagings meegebring. Geld is ook skaars, veral wanneer ons na Kaapstad moet reis vir behandeling, maar nog elke keer het die Here voorsien.”

Die gospelsanger en TV-aanbieder Jonathan Rubain het Cloete onlangs besoek nadat hy gehoor het sy is ’n groot fan van hom. Sy vertel dié besoek het haar gemoed so goed gedoen.

Cloete sluit af: “Ek hou vas aan God se belofte wat sê die planne wat die Here vir ons het, is ’n hoopvolle toekoms.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters