28 dae gelede
Gedagtes word gedigte
Freda Froehlick
Gereed: Freda Froehlick is opgewonde oor haar eerste boek.  ~ Verskaf

FREDA Froehlick (54) van Michausdal in Cradock is opgewonde om môre haar eerste digbundel uit te reik – en dít op haar verjaardag.

Die bundel, Doudruppels, is saamgestel uit al die gedagtes wat soggens in die vroeë oggendure deur haar kop gemaal het.

Froehlick sê as die gedagtes 03:00 in die oggend by haar opkom, dan staan sy op om hulle neer te pen.

Haar inspirasie is al die dinge om haar, veral die skoonheid van die natuur.

Haar liefde vir skryf kom al uit haar kinderjare.

Froehlick pen al sedert laerskooldae haar gedagtes neer.

Dis egter die eerste keer dat sy dit in ’n boek laat publiseer.

Sy noem sy het baie ink laat vloei en hordes woorde op papier vasgelê.

Froehlick is reeds besig met ’n tweede bundel.

“Ek het baie mense geken wat gedurende hierdie tyd afgesterf het en het ’n nagedagtenis van elkeen.”

Froehlick sê in haar tweede bundel skryf sy oor dié mense wat tydens die Covid-19-pandemie gesterf het en só word hulle onthou.

Sy skryf ook graag oor haar lewe as Karoovrou en kry inspirasie uit die gemeenskap waar sy bly.

Haar bundels bevat geestelike boodskappe en sy wil mense daardeur bemoedig.

Froehlick se geestelike reis is vir haar baie belangrik en speel ’n groot rol in haar skryfwerk.

“Ek het in ’n geestelike huis grootgeraak waar ek geleer het van die liefde van Jesus.”

Op 27-jarige ouderdom het sy haar as diaken in die kerk toegewy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters