2 maande gelede
Dag is tóg spesiaal
karien muller
Ds. Karien Muller van VGK Durbanville.  ~ 

EK VIER nie Vadersdag nie... Want ek het nooit my pa geken nie.

Soos sommige sal sê – hy’t gaan seep koop.

Vadersdag was nog nooit vir my ’n spesiale dag nie, altans so het ek gedink ...

Ek weet nie hoeveel daar van julle is wat soos ek nooit regtig iemand Daddy, Pappie, Pa of Derra kon noem nie.

Behalwe nou my oupa, wat ek “derra” genoem het, my ooms en ander vader­figure. Maar tog was daai verlange steeds daar om my eie pa in my lewe te kon hê.

Ek is bly vir diegene van julle wat bevoorreg was om jul pa’s te ken, drukkies te ontvang, opgetel te word, op sy skoot te sit en sommer net liefgehê te word.

Gebed

Maar ek het vandag veral gedink aan diegene soos ek wat nooit hul eie pa geken, ontmoet en nie weet wie hul pa is nie.

Ek het aan julle gedink wat in die kerkbanke gesit het en wat nie ’n gebed kon ontvang oor ’n pa wat nie meer “daar” is nie.

Ek het aan julle gedink wat nie weet wie jul pa is nie. Ek het aan julle gedink wat wát sou gee om jou eie pa te kon ken.

Ek het aan julle gedink wat graag sou wou weet hoe jou verhouding met hom sou wees.

Ek het aan julle gedink wat soos ek graag net ’n eie pa in die lewe wou hê.

Ek weet die gedagtes is ’n bietjie morbied en dis vrek seer om daaraan te dink. Dankie aan al die predikers wat my en soveel ander herinner het aan ’n Hemelse Vader wat nog altyd daar was, is en sal wees.

Soveel

Hy is die een Vader wat ek ken, wat my styf teen Sy bors vasdruk, wat my optel op Sy skoot en my hartseer heel.

Ek en soveel ander het ’n Pa en Hy is altyd daar. Pappa God!

  • Ds. Karien Muller is verbonde aan Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) Durbanville.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters