4 jaar gelede
Colin is onnie en sanger
COLIN MITCHELLS foto verskaf  ~ 

COLIN Mitchells van Klipheuwel is ’n bekende in die gospelmusiekbedryf.

Hy sê: “My liefde vir gospel­musiek het in ons ouerhuis en in die kerk begin, want ons hele gesin sing en maak musiek.

“Ons groep bestaan uit lede van Klipheuwel, die Paarl, Klapmuts en Fisantekraal. Ons groep bestaan al vyf jaar en is bekend as Colin Mitchells Music ­Ministries.”

Colin is al sewe jaar onderwyser in die Wesbank Sekondêre Skool in Malmesbury. Hy vertel dis sy passie om klas te gee.

Hy voeg trots by hy wil die jeug bemagtig deur opvoeding en sy musiek.

“Ons is ligdraers en moet ’n verskil in die gemeenskap maak,” sê hy.

Gospelsangers wat hom inspireer, is onder andere Dumisani, Todd Dulaney, Wilmot Fredericks en William McDowell.

Colin sê: “Op kampus was ek baie depressief. Ek het gesoek na wie ek is. Ek het egter net op die Here vertrou en deur gebed het God aan my die begeertes van my hart gegee.

“Ek kon deur die genade van die Here my honneursgraad in onderwys afhandel, so alles is moontlik as ’n mens hard werk en in jouself glo.

Gefokus

“Jy kan uitstyg bo jou omstandighede, ver kom in die lewe en as jy ’n visie het, kan jy groot hoogtes bereik.

“Ek kom van ’n klein gemeenskap waar ons mense se omstandighede nie altyd so lekker is nie, maar as jy gefokus is en hard werk, sal jy dit maak.

“My grootste deurbraak het gekom toe ek die lied ‘Open Gates’ saam met die gospel-rapper Ambassador Jurol Loemba opgeneem het. Dié lied word gereeld op One Gospel, Faith TV en TBN Africa gespeel.

“Ons werk tans aan ons nuwe single, ‘God of Miracles’, wat in Julie bekend gestel word. Later vanjaar volg ons album wat deur die producer Tembi Cornel opgeneem is.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters