14 dae gelede
Cecelia Less laat niks in lewe haar onderkry nie
POSITIEF: Cecelia Less kyk vorentoe in die lewe en hoop om ander te motiveer.  ~ Foto Verskaf

JY IS nooit te oud om jou drome te volg of passie uit te leef nie.

Dís die siening van Cecelia Less van Mitchells Plain oor die lewe. En sy voeg by dat ’n mens nooit moet toelaat dat enigiets jou onderkry nie.

Die 48-jarige is in Kewtown gebore, maar toe sy 5 jaar oud was, het hul gesin na Mitchells Plain verhuis. Daar was sy eers by die Laerskool Parkhurst en later by Cedar High.

Cecelia het ná skool ’n diplomakursus in kinder-en jeugwerk voltooi en vandag is sy betrokke by die aanlyn radiostasie Radio Awakening.

Bediening

“Ek het geen radio-opleiding nie, maar kry goeie leiding by die res van die span en dit bly maar ’n onvergeet­like ervaring.”

In 2019 het sy ’n pastorale kursus by Trinity College in Gqeberha (Port Elizabeth) voltooi en vandag is sy voltyds in die bediening, waar sy haar plaaslike gemeenskap met die woorde van die evangelie voed.

Die ma van drie skryf tans aan ’n boek, Yahew, the Driving Force Behind Every­thing.

“Ek hoop dit sal mans en vroue kan inspireer.

“Die boek is regtig net ’n handleiding vir vroue en mans oor hoe om deur moei­like tye te gaan en in oorwinning te stap.”

Sy erken: “Ek self is deur finansiële en emosionele mishandeling en daarom is dit my begeerte dat die boek ander kan help en genees.

“Ek was gelukkig om sonder letsels te kon wegstap as ’n heel vrou en gesonde moeder.”

Cecelia se dryfkrag is haar verhouding met haar Skepper en haar familie, veral haar kinders Glenn, Urbenice en Caleb.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters