Verlede maand
Album kom binnekort
Julian Manuelfoto VERSKAF  ~ 

HY HET “Stormloop” vir sy vrou geskryf, maar dit is net soveel vir ander paartjies om hul liefde aan mekaar te verwoord.

Julian Manuel vertel die titel van sy nuutste liedjie kom eintlik uit die Bybel.

“Dis Psalm 18 vers 30, want met my God loop ek ’n bende storm en ek spring oor ’n muur.”

Die 43-jarige gospelsanger voeg by dat die fokus nie op die bende of storms is wat ons teenstaan nie, maar dat paartjies saamstaan en saam teen die storms van die lewe beweeg.

Hy beplan om in September ’n volledige album met nege snitte uit te reik.

Excited

Van die liedjies op die album is “Ek Wil U Loof”, “Thank You, Lord”, “Waai Deur My”, “Seën Afrika”, “Alles Nuut” en “Prys Sy Naam”.

“Billy Paulson en Peter McCarthy het ook twee van die liedjies op die album geskryf. So, ek is excited.”

Julian is in Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte gebore, maar is deesdae in Pretoria werksaam.

Hy het destyds op skool in Kraaifontein reeds klavierlesse geneem en later het hy dit by die Waterkloof- musiekakademie in Pretoria voltooi. Julian het ook 18 maande by ’n privaat skool in Duitsland musieklesse gegee, iets wat hy as ’n onvergeetlike ervaring beskryf.

In die lockdown het hy by ’n musiekakademie in Pretoria betrokke geraak.

Julian is ook betrokke by ’n video-produksie-span.

Tussen 2008 en 2019 het hy vryskutwerk by die Barn­yard-teater gedoen, waar hy onder meer klavier in produksies gespeel het.

Natuur

Julian is al 13 jaar getroud met Maren en hulle het ’n seun, Levi (4).

Daar is nog een op pad later dié maand. Die gesin hou van die natuur en uitstappies.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters