18 dae gelede
Album gebore uit ’n diepe hartseer
Wendy Julius  ~ Foto Verskaf

“DIE Here is my bron van krag. Dit maak nie saak wat die seisoen is nie; God is altyd in beheer.”

Só vertel die gospelsangeres Wendy Julius, wat in Belhar grootgeword het, maar deesdae in Kuilsrivier bly.

Sy glo God het met almal van ons ’n plan; jy moet net gehoorsaam wees.

Julius het ’n nuwe album uit – My Redder. Sy vertel: “In ’n moeilike tyd toe ons ’n geliefde aan die dood afgestaan het, het ek liedere geskryf. Dit was ’n baie hartseer-tyd. Ek het my in ’n put van depressie bevind.

“Toe ek by die Here uitkom, het Hy my opgetel en deur sy wonderbare lig genees. Ek het besef Hy alleen is my redder en verlosser wat my in tye van nood kan troos.

“Ek was so bevoorreg om saam met die talentvolle regisseur Kevin Booysen te werk.

“Sy nederigheid en sy kennis van die Woord spreek boek­dele.

“Dit was ’n eer. Sy Goddelike insigte het my diep aangegryp en so geïnspireer.

“In die grendeltyd het ek weer besef wat saak maak. Ek is dankbaar vir my familie se steun. Lewe vir vandag; môre is nie gewaarborg nie.”

Vir nog inligting, kontak Clarence Julius by 084 268 7818.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters