Verlede maand
Abby reik gospelalbum uit
NUWE MUSIEK: Abby Damon het onlangs die gospelalbum God Aloneuitgereik.  ~ Foto Verskaf

“EK HET gedink dit is maar my lot om in ’n abusive verhouding te sit, maar toe breek daar ’n dag aan dat ek besluit tot hier toe en nie verder nie.”

Dís die woorde van die dapper sangeres Abby Damon (vroeër James). Julle sal Abby onthou van die hit “Koekie”.

Deesdae sing sy ’n ander deuntjie – ’n gospeldeuntjie.

Die sangeres het in Desember haar eerste gospelalbum, God Alone, uitgereik.

“Aan die begin was ek baie bang vir die virus, maar ek het gou besef God het ons nie ’n gees van vrees nie gegee nie. Hy het ons ’n gees van liefde, vrede en selfbeheersing gegee.

“My album gaan daaroor dat ons net op die Here kan vertrou. Hy gaan ons help om anderkant uit te kom.”

Die sangeres het vier van die songs op haar album geskryf en haar man, Willmun, het dit vervaardig.

Dankbaar

“Dié CD is long overdue en ek kon vir die eerste keer my eie gevoelens en ervaringe neerskryf.”

Damon sê sy is dankbaar dat die Here haar ’n tweede kans gegee het.

“Hy het my opgetel en herstel.

“Al val jy 1 000 maal, God sal jou optel en vergewe. Hy wag met ope arms vir jou.

“Ek het my rug op die Here gedraai en ’n ander geloof aangeneem, maar die Here was nog steeds getrou.

“Hy het my vergewe en vandag staan ek hier as meer as ’n oorwinnaar.”

Sy vertel meer oor haar verhouding met God: “Ek het in 2016 my hart vir Here gegee.

“Die Vrydagaand het ek nog ‘Koekie’ gesing en die Saterdag by ’n diens toe gee my hart vir die Here.

“Nou sing ek ’n hemelse deuntjie – alles tot sy eer.”

Mense wat Damon se album in die hande wil kry, kan haar kontak by 084 791 1798.

Die CD’s kos R100 elk. Posgeld is uitgesluit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters