8 maande gelede
Veronique Jephtas kyk glad nie terug
jonk en talentvol: Veronique Jephtas het onlangs in drie produksies by die Woordfees in Stellenbosch opgetree. foto’s verskaf  ~ 

’N PÊREL uit die Paarl!

Veronique Jephtas maak vinnig opgang in die vermaaklikheidswêreld.

Van kleins af het dié skraal meisie gewys wat in haar steek.

Sy kon vir ure op haar eie met haar teddie, poppe en teestelletjie speel en met onsigbare maatjies praat! En soos talle tieners het sy met die haarborsel deur die huis gesing soos ’n operasangeres, of Whitney Houston nageaap voor die spieël!

Op skool is Jephtas hard deur die toneelspelgogga gebyt, veral toe sy haar debuut op die planke gemaak het in verskeie verhoogproduksies.

Jephtas het haar skoolloopbaan by die Hoërskool Klein Nederburg voltooi. Al het dié skool nie drama as ’n vak nie, was haar Afrikaans-onnie, Ernest Loth, een van die dryfvere agter haar passie vir die teater en vir skryf. Hy het haar verder aangemoedig om haar toekomsdroom na te streef.

Die jonge Jephtas het verder gaan studeer en laas jaar het sy as aktrise gekwalifiseer nadat sy haar studies aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het.

Vandag is sy ’n kranige skrywer, dramaturg en digter, en skroom nie om haar opinie te lug oor die geweld teen vroue en kinders nie. Soveel so dat sy ’n persoonlike gedig aan pres. Cyril Ramaphosa gerig het waarin sy hom aanspreek oor sy passiewe houding om misdaad teenoor vroue en kinders hok te slaan.

Vir Jephtas is die dood van een weerlose kind of vrou een te veel.

Die talentvolle 23-jarige het vanjaar ook ’n draai gemaak by die Woordfees en was by drie produksies betrokke. Sy maak haar debuut met die produksie Hoe Change Hulle en speel verskeie rolle in die bekroonde Jakkals en Wolf Onbeperk. Sy het ook die regie behartig van Niks Alles Tog Iets.

Vervullend

Hoe Change Hulle fokus op ’n gevangene, Shelly, wat openlik praat oor sy lewens­ervarings, sy ouers en vriende en die regering. Die akteur Marlo Minnaar (Sara se Geheim, 7de Laan) vertolk die rol van Shelly en Lee-Ann van Rooi (Sara se Geheim, Die Boekklub) behartig die regie. Sy is oorstelp dat Van Rooi en Minnaar haar gehelp het om haar teks lewe op die verhoog te gee.

In die teaterstuk takel sy alle stereotipes vreesloos, want so pak sy die bose elemente in bruin gemeenskappe aan.

Al sal Jephtas se liefde vir die verhoog altyd knaag, is haar passie vir skryf die toppunt van haar talent.

Volgens haar is dit vervullend om jou visie te sien waar word en as dit regtig met die gehoor resoneer.

“Hoewel ek lewenslank oor toneelspel en skryf en klank wil leer, en baie lief is vir toneelspel en in albei wêrelde klim, is dit vir my baie vervullend om self daai wêrelde te skep en om beheer te hê oor die stories wat vertel word. So, skryf – skryf is die een vir my,”sê sy met ’n breë glimlag.

Sy is geduldig met die skryfproses en sy werk nie minder as ’n jaar aan ’n teks nie.

Vir haar is dit belangrik om ’n rukkie regtigwaar met die woorde te sit voordat sy dit loslaat sodat die gehoor kry wat hulle verdien.

Voordat sy skryf, moet sy eers deeglik beplan. As sy nie beplan nie, kry jy niks uit haar nie.

“My idees kom altyd uit my hart en vir my is dit belangrik om ons stories van inside out te vertel en nie andersom nie.

“Ander skrywers probeer altyd oor ons stories skryf, asof hulself die dinge weet of beleef het. So, dis belangrik dat my tekste en idees altyd wys hoe ons nie hoef te wees wat ander sê ons is nie. Dit moet ook altyd die karakter, die wêreld van die karakter en my mense met respek en so eg moontlik verteenwoordig.”

Jephtas sal in Meimaand ook op die kassie te sien wees.

Sy gaan in twee episodes van die laaste seisoen van Fynskrif op kyk­NET die rol van Amy vertolk.

Ten slotte sien ons uit om baie meer van die belowende jong aktrise, digter en dramaturg in die toekoms te sien en te hoor.

Sien, sy is stadig maar seker besig om haar stempel af te druk in die mededingende vermaaklikheidsbedryf waarin die teddies en onsigbare maatjies van destyds nou ’n realiteit geword het!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters