6 maande gelede
Vasbyter se ster skitter
TWEE ROLLE: Hy is ’n comedian en ’n video-joernalis.  ~ Foto Verskaf

DIÉ boorling van Manenberg het nie toegelaat dat sy omstandighede hom agterhou in die lewe nie.

Die komediant, musikant en video-joernalis Crescendo Louw vertel alles is moontlik as jy die regte gesindheid en motivering het.

Louw het al die verhoog gedeel met groot name in die vermaak­bedryf, soos Alfred Adriaan en Virgil Prins.

Hy was ’n nuweling by die Newcomer Savanna Comics’ Choice Awards in Johannesburg en in 2013 was hy die naaswenner op die Jive Cape Town Funny Festival.

“Dit was ’n groot mylpaal in my loopbaan. Dit het so baie deure oopgemaak vir optredes in Kaapstad en Joburg.”

Net voor die begin van die lockdown het Louw nog in die Melville Comedy Club in Johannesburg opgetree.

Dit was ook saam met groot name in die komediebedryf: Prins, Nicholas Goliath en Dillan Oliphant.

“Covid-19 het ons almal hard getref. Ek het baie gigs verloor en ek moet bely, ek mis die verhoog.

“Ek kan nie wag dat die virus oorwaai nie, want dis my passie om mense te vermaak.

“In die lockdown het ek geleer om my familie te waardeer, want hulle is altyd daar om my te motiveer en te ondersteun.

“My ma is die dryfkrag in my lewe­.

“Sy is my candy. Dit wat ek vandag is, is deur my ouers.

“Dis nie altyd maklik saam met hulle nie, maar ten spyte van alles aanvaar ons mekaar met al ons tekortkominge.”

Louw is ’n essensiële werker. Hy is een van e.tv en eNCA se verslaggewers. Hy werk as video-joernalis. Hy sê hy sou nooit dié mylpale op sy eie bereik het nie.

“Ek is dankbaar vir my ma, wat my altyd motiveer en my aanspoor om net my beste te lewer.

“Vandag is Moedersdag. Wees elke dag lief vir jou ouers.

“En vertrou op die Here en alles sal voorspoedig wees.”

Louw se groot deurbraak het gekom toe hy by die SA Akteursgilde as komediant opgetree het.

“Ek het daai tyd ook in Kaapstad acting vir film en TV studeer.

“Ek het ’n kans gevat met komedie en die res is geskiedenis, soos die spreekwoord lui.”

Die jong man vertel hoewel hy grootgeword het in ’n bendegeteisterde gemeenskap, het dit hom nie daarvan weerhou om sy drome te bewaarheid nie. “My komvandaan, Manenberg, het my gemotiveer om elke dag net my beste te lewer.

“Ek het tussen die gangsters grootgeword en gesien hoe baie onskuldige mense geskiet word. Ek het vir myself gesê ek gaan nie toelaat dat my omstandighede my agterhou om my drome eendag te verwesenlik nie.

“Ek het vir myself gesê ek gaan my matriek klaarmaak en goed slaag sodat ek vir ’n beurs kan kwalifiseer.”

Kompliment

Louw sê hy het van kleins af daaroor gedroom om op die kassie te wees.

“My liefde was nog altyd TV en film. Ek is trots om te sê my hoogtepunt in my loopbaan was toe ek by Winnie Mandela se begrafnis geskiet het. Ek was ook die eerste video-joernalis by (Ra­shied) Staggie se storie.”

Louw het ook by verskeie TV-produksies gewerk, onder meer Checkpoint op e.tv.

Hy het onlangs so ’n pragtige kompliment by pres. Cyril Rama­phosa gekry.

Louw vertel trots: “Hy (pres. Ramaphosa) het gesê: ‘Jong man, ek hou van jou passie en ek kan jou liefde vir jou werk sien. Jy moet teruggaan en die jeug in Manenberg gaan oplei met jou kennis en vaardighede.’ ”

Hy het groot planne vir wanneer die grendeltyd oor is.

“Ek is opgewonde, want ná die lockdown gaan ons my musiekvideo in Manenberg skiet. Die jeug uit dié gemeenskap gaan daaraan deelneem.

“Moet nooit opgee op jou drome nie. Dit maak nie saak waarvandaan jy kom nie, jy kan die verskil in jou gemeenskap wees.

“Ek is baie lief vir my gemeenskap en die liefde wat ek ontvang elke keer dat ek dit besoek, spreek boekdele.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters