5 maande gelede
Uit die bus val ry nie sy passie in die wiele

HY WAS een van die vele deelnemers wat met hul talent ’n kans gevat het op Emo Adams se talentsoekprogram, Maak My Famous­.

Ongelukkig het die danser Densley Carolissen (26) op Woensdag 6 Mei in die eerste aflewering van die tweede seisoen uitgeval.

Maar dit beteken nie dat Carolissen nie propvol talent is nie.

Carolissen, ook bekend as Lyrical Deezy, is ’n beroepsdanser en -choreograaf.

Hy het Suid-Afrika al verteenwoordig in danskompetisies in lande soos die Amerika, Duitsland en Switserland en hy het al gesig gewys in buitelandse filmproduksies.

Hy is gebore in Seawinds en het daar grootgeword.

“Ek is nou al meer as 15 jaar in die dansbedryf. Ek het op 10-jarige ouderdom hiermee begin,” vertel Carolissen.

“Ek het op skool aan baie talent shows deelgeneem. My inspirasie is Michael Jackson en Chris Brown. Ek het myself geleer deur hul YouTube-video’s te kyk, maar ek het my eie unieke dans-identity ontwikkel. My genre is locking, hip-hop en choreography. Ek was in gr. 8, toe word ek al geboek en betaal vir shows.”

Carolissen het in 2012 sy eie dansgroep, Paradigm Dance­ Crew, gestig. Daar deel hy sy kennis en vaardigheid met jong en belowende talente in sy omgewing.

Dié groep is al vir verskillende pryse benoem (in 2014 by die South African Dance Awards en in 2018 by die Iconic Urban Dance Awards). Die dansers het ook in die Kunstekaap opgetree in die teaterproduksie Cape Town’s Most Want­ed.

Carolissen het selfs al saamgewerk met bekendes soos Karin Kortjé, Young­staCPT en Branton Charles.

Hy was verder al betrokke by vele musiekvideo-produksies. Soms feature hy self in die video’s, ander kere was hy die creative director en dans­instrukteur.

“In 2016 en 2019 was ek die enigste Suid-Afrikaner wat Urban Dance Camp in Duitsland bygewoon het. Ek het so ’n goeie indruk gemaak dat ek genooi is om vanjaar op die kamp lesse gee, maar die lockdown het ’n stokkie daarvoor gesteek,” sê hy.

Carolissen het al in ’n paar internasionale films as danser verskyn, onder meer A Cinderella Story: If the Shoe Fits en Honey 3: Dare to Dance. Hy was ook al ’n resident-danser op Expresso Morn­ing Show.

Intussen is Carolissen ook ’n kreatiewe en leefstylmodel vir ’n modelagentskap in die Kaap.

Gunstelinge

Oor sy deelname aan Maak My Famous sê Carolissen: “Ek was onder die 48 deelnemers wat gekies is uit oor 8 000 inskrywings. Ek was baie teleurgesteld toe ek sommer in die eerste program uitval. Ek voel ek wou die gehoor en Suid-Afrika baie meer bied.

“Maar dit wil voorkom asof ek daardie impak gemaak het, want ek het agterna baie bookings gekry en ek is een van Emo se gunstelinge. Ek sal graag by groter projekte betrokke wil raak.”

Mense kan Lyrical Deezy op Facebook en Instagram volg by @Lyrical Deezy, of hulle kan hom mail by lyricaldeezy.info@gmail.com of bel by 084 318 0441.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters