9 maande gelede
Terrible Tim het nog naarder truuks in sy mou
tim
Marco Spaumer speel die konkelende Tim du Plooy in Suidooster.  ~ Foto Verskaf / Suidooster

TIM du Plooy is op ’n mission en hy gaan nie ophou voordat hy sy einddoel bereik het nie.

Suidooster-kykers het die laaste paar weke gesien hoe Tim en die bose Bridgette (Denise Newman) kragte saamsnoer om Wade (Dean Smith) en Zoe (Lauren Joseph) se verhouding op te breek.

Toe hulle dit nie op hulle eie regkry nie, het hulle Wade se ou drag racing tjommie, Mercedes, ingespan om te help. En dit lyk of hulle slinkse plan vir eers geslaag het: Woensdag het Zoe ’n bedwelmde Wade op die bank in Mercedes se arms betrap.

Voorskoue wys reeds dat Wade om elke hoek en draai gaan verskoning vra, maar Zoe wil niks verstaan nie.

Son het ook reeds ’n voëltjie hoor fluit dat Wade se “verraad” Zoe nader aan Terrible Tim se arms gaan dryf.

Tim is ’n meestermanipuleerder en ’n ekspert as dit kom by ander se swakhede uitbuit. Son verneem Wade en Zoe se verhouding kry nog ’n gevoelige hou wanneer sy en Tim mekaar soen.

Marco Spaumer, wat Tim speel, het met Son oor sy karakter gepraat.

“As mense dink wat Tim nou doen, is erg, het hulle nie ’n idee wat nog gaan kom nie,” sê Marco, wat die kommentaar oor Tim in die sosiale media dophou.

Marco sê die idee om Zoe en Wade as pionne is sy slinkse skaakspel te gebruik, is als deel van sy eintlike plan: om die koning van Suidooster Eiendomme te word.

“Bridgette is die queen en Zoe is een stap nader aan haar. Sy purpose en goal is om nader aan haar (Bridgette) te kom. Wat dit beteken en hoe dit aan die einde gaan lyk, sal net die tyd leer.”

tim
Zoe October en Tim du Plooy deel 'n intieme oomblik.

Marco sê die berekende, slim en vasberade Tim is honger vir sukses en oorwinning.

Hy sê Tim het van dag 1 af geweet hy wil die baas wees.

“Hy het as jong argitek met sy opgerolde planne onder die arms gesê hy wil vir Ian October werk. Daar is baie eiendomsagente daar buite, maar hy het spesifiek daardie een gekies.

“Dit was die groot begin. Hy het na Suidooster Eiendomme gegaan, want hy het geweet Ian October is powerful en hy’t geweet hy wil ook powerful wees.

“Wat hy nie geweet het nie, is hoe om dit te doen en dat dit soveel lelike en dodgy oomblikke sal vat om te kom waar hy wil wees.”

Marco sê wat Tim grotendeels dryf, is die seer van sy verlede, sy ma wat in ’n inrigting opgeëindig en Nicci wat hom vir Rhafiek gelos het.

“Hy het grootgeword as second best. In sy verhoudings en in sy familie het hy heeltyd tweede beste opgeëindig.

“Maar waar hy nou is en hoe ek hom die laaste paar jaar gesien het, as ek nou buite moet staan en kyk, is hy verskriklik honger vir sy oorwinning.”

Kykers sal maar moet dophou. Tim is nog nie klaar gekonkel nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters