7 maande gelede
Seerkry smoor nie Hufkie se soeke na sukses
Reginald Hufkie
Reginald Hufkie  ~ Foto Verskaf

DIE sêding “the struggle is real” word deesdae te maklik en in die meeste gevalle eintlik net vir die grap gebruik.

Reginald Hufkie, akteur, rapper en sanger, ken van struggle in die ware sin van die woord.

Die eerste 13 jaar van sy lewe was g’n joke nie. Tog het hy nie toegelaat dat dit sy toekoms of sukses bepaal nie.

Hufkie is in Port Elizabeth gebore. Hy het in Neavestraat in Schauderville grootgeword.

“Ons was maar arm. Ons was die arm mense in Schauderville, so dit het maar hectic gegaan toe ons nog klein was. Dít het ek en my twee broers maar van ’n jong ouderdom af ervaar," vertel hy aan Son.

Kinderhuis

“My ma en my pa was baie siek en daar was die dwelmmisbruik. Omdat my ma en pa TB gehad het, het ons dit ook gehad toe ons klein was. Die meeste van daai eerste 13 jaar van my lewe was aan die meer negatiewe kant. Daar was min positiewe voorbeelde. Die effects van die verskillende tipe abuse het my maar in my dop laat kruip. Ek was van kleins af die stil outjie. Dis maar hoe ek daarmee gedeal het.”

Dinge sou nog erger word vir die jong Hufkie toe sy ma in 2004 en sy pa die volgende jaar afsterf.

Hy en sy broers het toe in die MTR Smit-kinderhuis in die Baai beland.

“Dis waar my lewe basies verander het. Dit was basies die begin van my lewe. Ek het na ’n beter skool gegaan en ek het by die kinderhuis regte kos begin eet.

“Toe word ek bekendgestel aan race walking. Dit was basies my escape. Ek het van gr. 9 af goed begin doen daarin en die Oos-Kaapse kampioen geword. Ja, daar was akademie en ek het geact en aan kabaret deelgeneem, maar atletiek was steeds my main prioriteit. Dit was my escape.”

Dit was deur race walking dat Hufkie in Johannesburg opgeëindig het.

Hy het in 2010 aan die SA Race Walking-kampioenskappe deelgeneem toe hy genooi is om aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) te studeer.

Die volgende jaar het hy met ’n sportbeurs Transport and Supply Chain Management aan UJ begin studeer.

Dit is aan dié universiteit waar sy akteursloopbaan begin het. Die eerste ding wat hy as student gedoen het, was om by die  kunstesentrum aan te meld. Hy was dieselfde jaar nog by die Nasionale Kunstefees te sien in die universiteit se play Metaphorically Speaking.

Draaipunt

Dit was die begin van groot dinge vir Hufkie. In 2015 was hy omtrent ’n week lank op die stel van 7de Laan. Hy het ook ’n rol in High Rollers gehad. Toe volg rolle in Delilah en Magic Moves. Die kortfilms was deel van kykNET se Ons Stories, ’n reeks TV-flieks wat die verhale van Suid-Afrika se Afrikaanse gemeenskappe vertel.

Van 2016 tot 2018 het die rolle egter opgedroog en daarmee het selftwyfel ingekruip.

Toe kom Hufkie se rol in 2018 as Zancas in die kortfilm Cowboy Dan, ’n western met ’n Kaapse flavour. Brendon Daniels, wat die titelrol vertolk, het daardie jaar by die Silwerskermfees die toekenning vir beste akteur in ’n kortfilm losgeslaan.

Cowboy Dan was die draaipunt. Daai tyd het ek myself gevra of ek dit gaan maak in die bedryf. Nadat ek die geleentheid gehad het om saam met Brendon Daniels te werk, het ek my perspektief oor my drome verander.

“Hy (Brendon) weet dit nie eens nie, maar hy het my so baie aangemoedig deur net homself te wees. Daar was ’n paar oomblikke waar hy met my gepraat en sy stories vertel het. Dit het my geïnspireer om my drome na te volg.”

Cowboy Dan het die rolle begin instroom.

Binne die eerste ses maande van verlede jaar het Hufkie verskyn in ’n episode van kykNET se rillerreeks, Die Spreeus, en toe as Spanner in Willie Esterhuizen se Huis Lelieveld en as Luke in Generations.

Vrede

As Reggie Peace, sy alter ego, het hy ses enkelsnitte uitgereik.

Hufkie sê hy het die naam Reggie Peace gekies omdat hy nog nooit vrede in sy lewe ervaar het nie.

“Hoe ek grootgeword het... In so ’n lewe is daar min vrede. As kind was ek in survival mode. Nou spreek ek elke keer wanneer ek met mense praat vrede uit oor my en die mense rondom my se lewe,” sê Hufkie.

Die meeste van sy liedjies is gegrond op ware gebeure. Hy gebruik dit om jong mense te inspireer.

Sy musiek gaan oor vrede en liefde en dis sy manier om sy kennis van die lewe te deel.

Hufkie is in Maart by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees te sien in die verhoogproduksie Die Atleet.

Die teks is deur Lizz Meiring (van Molly en Wors) geskryf en dit is grotendeels geïnspireer deur sy eie lewe.

Dit gaan oor die verhouding tussen ’n atleet en sy mentor en dit speel in die Baai af.

Hufkie gaan nie nou laat slap lê nie. Hy het klaar geskiet aan ’n nuwe projek saam met Esterhuizen.

Hy skryf ook nou al die afgelope twee jaar aan ’n film en sê dit staan nou al einde se kant toe.

Duidelik weet dié kampioen race walker wat hy wil hê en is hy nie bang om die pad tot daar te stap nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters