3 maande gelede
Rapper Reggie B doen dit met 'n kolletjie-I
Reggie BFOTO’S VERSKAF  ~ 

‘AS EK dit doen, doen ek dit met ’n kolletjie i!”

En met dié intro het die Afrikaanse hip-hop artist Reggie B hom en sy song “Kolletjie-i” aan die wêreld bekendgestel.

Reggie B – regte naam Reagan Plaatjies (24) – het op 13 Mei sy eerste verskyning gemaak op Emo Adams se gewilde talentprogram, Maak my Famous, en met sy song diep in vele mense se hart gekruip.

Reggie B het toe Woensdagaand in ’n baie emosionele oomblik deurgedring na die top-10 nadat hy uitgeval het in sy kategorie vir groepe en rym­kletsers.

Maar in ’n dramatiese wending het Rotas the Rapper sý plek aan Reggie B afgestaan omdat hy op sy studies wil konsentreer.

Musiekgogga

Maar meer oor Reggie B...

Hy is gebore in Rawsonville en bly op die plaas Groot Eiland net buitekant dié dorp.

Die musiekgogga het hom reeds op 14 gebyt, toe hy in gr. 9 by die Hoërskool Breederivier in Worces­ter was.

“Van my vriende was besig om ’n love song op te neem,” vertel Reggie B. “Hulle vra toe of ek kan sing en vra my toe om die chorus vir hulle te sing.

“Toe ons weer ’n song opneem, het ek ’n verse en chorus gerap.”

“In my matriekjaar in 2014 toe skryf ek die rap song ‘Kolletjie-i’. Dit het my byna ’n jaar geneem. Ek het dit toe dáárdie jaar by Hoërskool Breederivier se rugbysportdag gesing en die mense was mal daaroor.”

Op die vraag oor wat hom geïnspireer het om “Kolletjie-i” te skryf, sê Reggie B: “Ek het dit geskryf omdat ’n vriend my naam verkeerd geskryf het – met ’n ‘y’. Dít was nadat ons ’n song klaar record het.

“Toe ek hom die fout wys, toe sê hy sommer prontuit dat hy dit nie gaan regmaak nie. Ek het baie offended gevoel en toe besluit om dié song te skryf. Dit was om vir mense te wys my naam word geskryf met ’n kolletjie-i.”

In 2015 het Reggie B die mixed album “In My Stilte Is Ek Chaos” saam met ’n paar ander artists uitgebring.

Daar is 10 Afrikaanse hip-hop songs op.

In Januarie 2018 het hy die stage geopen vir Destruction Boys in Club 925 in Worcester.

Daai selfde jaar werk hy ook saam met HemelBesem, Oxygen en Yoma (Claudia Witbooi) aan die ATKV Crescendo Projek (’n slypskool vir opkomende musikante), waar hy baie ondervinding opgedoen het.

“Op die oomblik fokus ek ál my aandag op Maak my Famous.

“Ek leer baie van die mentors en hul insae oor my performances.

“My fokus is om naam te maak en sodat mense my ná Maak my Famous kan nooi na groot funksies soos die KKNK en dalk televisie­pro­gramme.

“Ek wou eintlik laas jaar ingeskryf het vir dié kompetisie, maar kry toe nie kans nie. Dié jaar het ek besluit om dit ’n try te gee. En toe ek die oproep kry dat ek uit meer as 8 000 inskrywings deur is na Maak my Famous se top-48, was dit vir my ’n groot eer.

“Die laaste paar dae het die boodskappe op my WhatsApp, Facebook en Instagram accounts­ ingestroom.

“Dit is ’n groot eer om te sien hoe baie mense Afrikaanse rap ondersteun en ek is baie dankbaar daarvoor.

“Ek waardeer wat Rotas vir my gedoen het en het die grootste respek vir hom.

“Laastens wil ek net dankie sê aan almal wat my ondersteun.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters