7 maande gelede
Rapper bring show na woordfees
Kolskoot: Jerome Rex neem die teaterstuk “Lyrics Still Matter” na die Woordfees.  ~ Verskaf

DIE Ghoema-bekroonde rapper en singer-songwriter Jerome Rex se show Lyrics Still Matter is binnekort te sien OP die Woordfees in Stellenbosch!

Jy moenie die show misloop nie, want dit het reeds ’n suksesvolle uitverkoopte show by die Kunstekaap-teater gehad. Mense kon ook nie genoeg daarvan kry by die ikoniese Cape Town Comedy Club in die V&A Waterfront nie.

En dié keer is die unieke Suid-Afrikaanse produksie terug met dieselfde uitmuntende rolverdeling met ’n hele versameling nuwe liedjies en stories.

In die show deel die twee vocal artists Jerome en die singer-song­writer Nadine Matthews hoe musiek en lirieke hulle ervarings gevorm het soos hulle grootgeword het in die kleurryke en diverse Kaapstad.

Ons het dié week ’n bietjie gepraat saam met die talentvolle Jerome, wat laas jaar ’n Ghoema-toekenning vir die beste hip-hop-album ontvang het.

Die rapper sê die toekenning het hom aangespoor om meer werk uit te reik.

“Om ’n toekenning vir my kuns te wen was vir my ’n groot prestasie, asook ’n erkenning van die harde werk wat in so ’n projek ingaan.

“Die wen het my aangespoor om meer projekte te takel en om meer risiko’s met my musiek aan te vat.”

Hy vertel dis die derde keer dat hulle die show gaan opvoer.

“Dithet vir die eerste keer in 2018 op die planke gekom.

“Dit het ontstaan uit ’n vennootskap met Nadine Matthews, ’n baie talentvolle jazz-sangeres.

“Dit was meer van ’n musiekkonsert op daai tydstip en toe Artscape ons verlede jaar nader om die produksie na hulle verhoog te bring, moes ons dit uitbrei om ook elemente van die teater te bevat.

“Die vertoning by die Woordfees is dus nou die derde iterasie van die show.

“Die Kaapse Vlakte se erfenis is so ryk dat dit maklik was om ander stories te skryf en ander liedjies saam te stel wat dit ondersteun.”

Hy wei uit: “Die produksie word saamgestel uit ’n vierstuk-orkes (Natez Barthus op klawers, Robin Thompson op baskitaar, Bradrock Lodewyk op die tromme en Lee Hoffmann op saxofoon), twee ondersteunende sangers (Adelle de Kock en Timothy ‘Superbass’ Stuurman), ’n DJ (Azuhl), ’n flamenco-danser (Demi Jade Johnson), seremoniemeester (Hakkiesdraad Hartman) en die hoofrolle behoort aan myself en Nadine.”

Jerome verduidelik die belangrikheid van so ’n teaterstuk vir ons gemeenskap.

“Ek glo dat die kunste ’n massiewe rol het om te speel as dit kom by gemeenskap-trots, asook die afbreek van die talle grense wat dreig om ons as Suid Afrikaners verder uitmekaar te dryf,” sê hy.

“Die doel met hierdie produksie is om mense wat nie daarmee bekend is nie, by ons Kaapse kultuur in te nooi.

“Dis ook ’n viering van ons erfenis en herkoms.

“Ek wil graag sien dat ons gaste die teater met ’n gevoel van trots verlaat.”

Die rapper beloof jy sal die show gate uit geniet.

“Dit gaan die beste ene ooit wees!

Kaartjie

“Die stories, musiekkeuses en algehele chemistry tussen die rolspelers is deur tyd verfyn en vervolmaak sodat dit die bes moontlike show kan wees.

“As jy goeie musiek geniet, dan is dit die plek om te wees!”

Die show vind plaas op 9 Maart, asook Saterdag 14 Maart by die Drostdy Teater in Stellenbosch.

Kry jou kaartjie vandag by Computicket!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters