7 maande gelede
Paarlse diva se career weens pandemie op ys
talentvol: Chelsea Ceaser sing die wêreld aan die brand.FOTO’S VERSKAF  ~ 

‘TOE ek opgegroei het, moes ek baiekeer hoor dat ek te groot vir my skoene is.

“Dít was oor ek altyd in ouer geselskap was. Maar dít het gemaak dat ek die lewe in ’n ander lig sien en ek kan interact met die gawe wat ek gekry het – om te kan sing.”

Só sê die talentvolle Bolandse sangeres Chelsea Ceaser (25).

Vandag staan Chelsea haar groot skoene vol in die vermaak­bedryf en sy sing die wêreld aan die brand.

Die Paarliet het op skool eers ballet geneem, maar sy moes toe later ’n keuse maak tussen dít en sang. Natuurlik het sy sang gekies.

“My wiskundeonderwyser, mr. Feargus Ayford, het voorgestel dat ek op die verhoog optree nadat ek in 2008 in die destydse Bolandse Idols-kompetisie onder die top-vyf-finaliste geëindig het.

Bevoorreg

“In 2009 het ek my by die Frank Pietersen Music Centre in die Paarl aangesluit vir sangonderrig.

“ ’n Paar jaar daarna was ek deel van die Whitney Houston Tribute Concert in die Paarl en Franschhoek, waar ek bevoorreg was om die verhoog met die Paarl se beste sangers te deel.

“In dieselfde jaar het ek saam met Nadia Herbst (Olivia in 7de Laan) by een van die bekende sanger Rappin Donkey se vele CD-bekendstellings opgetree.”

In 2011 het Chelsea en ’n goeie vriendin die vrouegroep Ensemble gestig.

Dit was deel van hul skoolprojek en hulle het by talle konserte opgetree.

Daardie jaar het hulle ook die eisteddfod-skoletalentkompetisie gewen.

Chelsea was ook derde in die Bolandse Global Spotlight Talent Search-kompetisie.

In 2012 matrikuleer sy en tree vir die eerste keer by die Paarlse Liggiefees op.

“Die jaar 2013 was vir my ’n groot jaar,” gaan Chelsea voort. “My liefde vir die filmbedryf het ontwikkel.

“Ek het toe gaan studeer by CityVarsity se School of Media Studies and Creative Arts in Kloofstraat, Kaapstad. Dít is waar ek saam met die akteurs Roberto Kyle en Keenin-Chad von Wielligh my eerste kortfilm, Model Wife, gemaak het. En daarna toe skiet ek my tweede kortfilm, Pusha.”

Toe vat Chelsea se musiekloopbaan weer vlam en sy tree saam met verskeie orkeste op, onder wie Solfamadink, No S’wett, Highly Contagious en Rainbow Connection.

Sy het selfs skouers geskuur met die Idols SA-wenner Karin Kortjé, Crush­anda Forbes en die legendariese Zayn Adam.

In 2016 gaan Chelsea vir ’n paar maande Spanje toe.

Daar doen sy die Popstar Concert toe saam met die sangers Antonio Storm en Samiel Meniers op die eiland Majorka.

Toe sy terugkeer na Suid-Afrika, tree sy by ’n Valen­tyns­konsert by die Taal­monument op.

Daarna pak sy toe weer Spanje toe en sing Motown music op Majorka en die eilande Lanzarote en Fuerteventura.

Einde 2018 verhuis Chelsea na Johannesburg en doen haar eie solo-konsert, Just Diva.

Hotelle

“Ek is tans op Lanzarote en Feurteventura hier in Spanje met my konsert Just Diva.

“Tans affekteer die lockdown ons artists hier geweldig baie, want hier is ons grootste klante die hotelle met hul vele toeriste.

“En met die wêreldwye pandemie is die hotelle toe.

“Nou sit ons maar hier, sonder werk.

“Hopelik maak hulle die hotelle binnekort oop vir die Spanjaarde, want dan sal ons weer ’n bietjie werk kan hê.”

Intussen dink Chelsea daaraan om aan ’n debuutalbum te werk.

Volg haar gerus op Facebook.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters