3 jaar gelede
Pa-wees is ’n passie – Meas
sepie-ster: Zane Meas is tans in Scandal! te sien.FOTO VERSKAF  ~ 

VIR Zane Meas is die rol van pa ’n belangrike een – of dit nou op of van die skerm af is.

Nadat hy vir 12 jaar in 7de Laan die rol van Neville Meintjies vertolk het, is die gesoute akteur nou in ’n ander sepie, Scandal!, te sien.

Hy vertolk die rol van die sakeman en pa Wesley Thompson.

Meas het twee en ’n half jaar lank niks anders gedoen as om op sy NGO, The Fatherhood Foundation of South Africa, te fokus nie.

Dít was totdat Scandal! hom genader het vir die rol van Wesley – Ingrid (Stephanie Sandows) se pa in die e.tv-sepie.

Soos wat Meas verduidelik, “het Wesley ’n klomp geld” en hy “is ’n working actor”.

Meas en Wesley is egter albei pa’s.

Die akteur vertel hy het ’n goeie verstandhouding met sy TV-dogter.

“Selfs van die stel af kon sy my dogter gewees het – sy is so oud soos my oudste dogter,” sê Meas.

En al is die rol van pa een waarmee Meas goed vertroud is, beteken dit beslis nie hy kom met “halwe energie” stel toe nie.

“Enige rol wat jy vertolk, moet geloofwaardig voorkom,” meen ­Meas.

“Dit moet genuine wees. Mense moet jou glo en empatie kan hê met die karakter,” sê hy oor sy beroep. “Maak nie saak wat die rol is nie.”

Ná 15 jaar op die stelle van plaaslike sepies is daar steeds uit­dagings vir Meas.

“Elke sepie het maar sy eie kultuur en manier van werk,” vertel hy oor die bedryf.

“Dis soos ’n masjien wat soveel episodes ’n week moet maak en mens moet maar aanpas by daardie ritme,” sê hy oor nuwe stelle.

Met ál sy ondervinding weet Meas natuurlik ook hoe dinge werk.

“Ek is gemaklik met dié medium en ek bring iets wat goed is mee.

“En elke akteur sal sê die pay-tjek,” grap hy oor wat lekker is van aan sepies werk.

Meas is ook tans op twee ander programme op televisie, Erfsondes en Bedford Wives – natuurlik in ander tipe rolle.

“Ek speel die bad guy. En ek hou nogal daarvan!” verduidelik hy.

“As akteur wil jy ge-stretch wees en dis nogal lekker om ’n bietjie weg te kom van die stereotipe Zane-wat-altyd-die-nice-ou is,” deel hy.

In die regte lewe doen Meas egter (meer as) “nice ou dinge”.

Die akteur is die naweek in Kaapstad om werk vir The Fatherhood Foundation of South Africa te doen.

“Akteur-wees is my beroep. Vaderskap is my roeping in die lewe,” vertel Meas oor hoekom die NGO so na aan sy hart is.

“Ek sien wat word van die kinders wat sonder ’n pa grootword.”

Sy film Father is verlede Saterdag in Lotusrivier vertoon.

Hy beoog ook ’n tweede aflewering van die film, wat die verskillende aspekte van vaderskap uitbeeld.

“Ek sit nie op my hande en wag vir werk nie.
En intussen wil ek ook nog skryf aan daardie action-adventure comedy.”

  • Scandal! is 19:30 op weekdae op e.tv en DStv se kanaal 195 te sien.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters