3 jaar gelede
Niks staan in Rique se pad
Rique NelsonFoto: SALMON SMITH  ~ 

Niks is onmoontlik in die lewe nie. Jy moet net hard werk as jy ’n sukses van jou lewe wil maak.

Só glo die Kaapse sanger, Rique Nelson, wat al skouers geskuur het met groot name in die plaaslike musiekbedryf onder andere, Dr Victor, Mi Casa en Liquid Deep.

Eintlik is Rique ’n baie plat-op-die-grond mens, wat glo dat nederigheid een van die beste eienskappe van ’n musikant moet wees.

Nelson is gebore in Ravensmead op die Kaapse vlakte en het hier groot geword. Hy was in graad agt, toe hy sy musiekloopbaan begin het in ’n groep genaamd, Unique Attraction.

“My vriend, Tye Platinum, die gewese voorsanger van die groep Black Current, het eintlik my talente raakgesien, toe hy nog deel van Unique Attraction was,” vertel Rique verder.

“Ek was deel van die groep tot en met matriek.

“Ek het na matriek, vir twee jaar musiek gaan studeer by die destydse Xulon music technicon in Atlone, vandag bekend as die Cape Music Institute.

“Na my gradering was ek in talle plaaslike bands, onder andere, INK, waar ek die voorsanger was.”

Rique noem dat sy eerste album waaraan hy gewerk het is, Formula, met die groep, The 4 mula. Dit is uitgereik in 2012.

Rique sê: “Na die album het ek solo gegaan en vir my ’n bestuurder aangestel. Ook in 2012, het ek my eerste album, Here I am, as solokunstenaar uitgereik. Dit is ’n mix van R&B en Pop en een van die songs daarop, Looking at you, was vir vyf weke onder die top tien in Suid Afrika.

“Na my bestuurder se skielike dood in 2015, het my loopbaan ’n dip gevat. Ek het myself begin manage en dit was baie touch aan die begin. Ek het hard gewerk en toe weer my voete gevind. Ek het die land vol getoer met sterre soos, Karin Kortje, Die Rockets, Robin Peters en vele meer.”

Nelson noem dat hy al twee musiekvideos agter die blad het van sy songs, “Looking at you” en “I wanted to.”

Hy het nou die geleentheid gekry om met die land se voorste musiekvervaardigers, Vally, te werk.

“Ek voel dat dís die deurbraak na die volgende level in my career. Ek is besig met my volgende single CD en beplan om dit nog vanjaar bekend te stel.”

Oor die grootste oomblik in sy musiekloopbaan, sê Rique: “Dit was die dag toe ek gevra was om die Suid Afrika se volklied te sing, met die aanvang van die Gold Cup rugbywedstryde, op Florida Park in Ravensmead. Dié event is waar die land se top rugbyclubs teen mekaar kompeteer.”

Nelson het al gesig gewys op die televisie ontbytprogram Expresso, Hectic 9 en The Rainbow Cruise show op Ctv.

Hy het al die akteur Denzil Washington en die sanger Jonathan Butler ontmoet. En hy noem dat dit sy droom is om eendag vir Usher te ontmoet.

“Volg jou drome en werk hard. Sit God eerste in alles wat jy aanpak en jy sal ‘n sukses daarvan maak,” deel Rique nog vir oulaas ’n stukkie wysheid.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters