2 maande gelede
Musikant gee eer aan God met talent
SUKSES: Roderick McKay het al op groot verhoë verskyn.  ~ Foto Verskaf

HY MAAK al musiek vanaf die jong ouderdom van 11.

Só vertel die musikant Roderick McKay van Bellville-Suid.

Die 25-jarige, wat musiek aan die Cape Music Institute gestudeer het, vertel hy het in die kerk begin musiek maak.

“Dis waar die fondasie van my loopbaan gelê is.

“Ek is geanker in my geloof in die Here en deur moeilike tye dra die Here my.”

Die musikant sê sy groot deurbraak het gekom toe hy moes optree by ’n cocktail-paartie waar pres. Jacob Zuma teenwoordig was.

“Toe net daarna het magtige deure vir my begin oopgaan, onder meer waar ek by die Kaapstad Nasionale Jazzfees, K-Day en ’n geleentheid van Angus Buchan opgegee het.”

Daarna het McKay die verhoog gedeel met groot sterre soos die Sama-benoemde Jarrad Ricketts, Jack Parow, Jimmy Nevis, Neville D, Emo Adams, Heinz Winckler, Paxton Fielies, Youngsta­ CPT en vele meer.

Hoewel die musikant sulke hoogtes bereik het, is sy voete nog plat op die aarde.

“Ek sien nie myself as famous nie, maar wanneer mense my wel herken, dan waardeer ek dit, want hulle word geïnspireer deur die werk wat ek doen.”

Die sanger sê sy pa is sy rolmodel.

“Ek onthou van kleins af dat hy my geleer het om true te wees teenoor myself.

Wakker

“My pa is die toonbeeld van ’n hardwerkende man. Hy het my ook geleer as jy met volle oorgawe doen wat aan jou toevertrou is, sal jy die vrugte daarvan pluk.

“Ek is so dankbaar vir die ondersteuning van my familie en dat ek elke oggend kan wakker word en my gawes en talente gebruik tot Sy eer.

“Ek is ook diep dankbaar vir geleenthede wat op my pad kom, veral nou in die pandemie-tyd, want daar is so baie kunstenaars wat sonder werk sit.

“As kunstenaar is daar baie uit­dagings, veral as die finansies min is om groot konserte te reël, maar ek het ook geleer om klein te begin en later sal dit groter groei.”’

McKay het onlangs saam met Ricketts begin werk as musiek­regisseur en sê hy leer baie by dié sanger. Hy werk saam met hom aan sy aanlyn shows en speel ook gereeld klavier vir Ricketts op die ontbytprogram Expresso.

“Ek geniet dit om saam met Jarrad te werk.

“Hy push my om meer kreatief te wees. Dit bring ’n ander tipe vryheid. Expresso is so ’n amazing show en platform.

“Dis ’n droom wat waar geword het, veral waar ek vandaan kom, is dit ’n inspirasie vir ons jeug.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters