3 maande gelede
Musiekgogga byt Parker vroeg al
Werk hard: Nadeem Parker vertel hy het groot planne wanneer dinge na normaal terugkeer. foto’s verskaf  ~ 

DESTYDS as klein klonkie het hy altyd gesien hoe groot en bekende musikante oefen en dit is dáár waar sy liefde vir musiek geprikkel is.

Nadeem Parker (37) vertel hoe hy altyd in skoolvakansies by sy nefies daar in Tafelsig, Mitchells Plain, gaan kuier het. Sy nefies se pa was die gewilde musikant Eddie Starr. Daar het hy altyd groot musiekgeeste soos Al Etto, Debbie Young en Ricardo Groenewald sien oefen.

Vandag is Parker self ’n erkende musikant en musiekvervaar­diger wat al sy talente oorsee gaan toon het. Hy reik nou uit na die minderbevoorregte musikante om hulle te help om hul eie musiekloopbaan ook op dreef te kry.

Hy is gebore in Bonteheuwel en het daar grootgeword. Hy ken dus die challenges waardeur local artists moet gaan om sukses te smaak in die lewe.

In 1994 stig hy en drie vriende die vocal groep Infinity. Maar kort daarna verander hulle die naam na Total XTC en toe na 4Best Friendz. Dit was eers drie jaar later dat hulle werklik gewild begin raak het in hul gemeenskappe. In 2002 stig Parker toe die groep Skindeep.

Inisiatief

“Omdat ons nie so bevoorreg soos vele bekende artists van daai tyd was nie, moes ons maar struggle om dinge gedoen te kry,” gaan hy voort.

“Ek het toe besluit om my eie musiekstudio aan te skaf. Dit was in 2005 dat ek Jazzitup Recording Productions in die Bonteheuwel gestig het.

“Die inisiatief was om jong en opkomende musikante in en om Bonteheuwel te help wat dit nie kon bekostig om hul eie recordings te doen nie.”

Parker noem trots hoe bevoorreg hy was om met die Kaap se beste talent te kon werk aan verskillende musiekprojekte. Onder hulle tel sy vriend Nur Abrahams, Die PJ Twins, Lauren Adams, Shafieka Patel en Zahied Wood.

“In 2009 besluit ek en Nur Abrahams om in Spanje te gaan werk. Ons het in welbekende restaurante en nagklubs opgetree en ek was ook ’n stemafrigter.

“Daar het ek bekendes ontmoet soos die Britse offisier James Hewitt, die Sweedse musiekvervaardiger Andreas Carlsson, Manchester footballer Dwight Yorke en die Britse R&B-groep Eternal. Ons het ook die voorreg gehad om te kan optree saam met die Franse groep die Gipsy Kings.”

In 2012 span Parker en die bekende Rico White saam en werk aan twee compilation albums, genaamd Mix Masala Volume 1 en Mix Masala Volume 2. Hy help ook om die voormalige Rockets-voorsanger Theo Watt se debuut- single, “You’re Sexy”, te vervaardig.

Later stig hy en Rico White die nuwe Groove Station en reik die CD Alles is Pap uit.

Stemafrigting

Parker het as solo artist ook ’n paar singles uitgereik, genaamd “Ek is ’n H*tn*t, Don’t Send Me a Please Call Me” en “Dankie, Driver”.

In 2017 was hy ook betrokke by Mynie Grové se Shoprite Topstars-kompetisie – ’n kompetisie vir werkers van Shoprite. Hy en Grishaam Paulsen het gehelp met stemafrigting en die skryf van musiek vir die deelnemers.

“Ek het nog groot dinge in store ná die lockdown, maar meer daaroor later,” sê hy geheimsnnig.

Vind hom gerus op Facebook, Instagram en YouTube of skakel hom by 084 587 3393.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters