3 maande gelede
Mnr. SA net stap 1
ondersteun: Heinrich neem deel aan vanjaar se Mnr. Suid-Afrika-kompetisie.  ~ 

HY HET vir die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie ingeskryf om homself uit te daag en mense in sy klein dorpie te inspireer.

Heinrich Moses (29) van Ceres is ’n voltydse onderwyser by die Hoërskool Ceres.

Hy vertel hy geniet sy loopbaan, want hy hou daarvan om leerders aan te moedig.

“Ek glo dat geen droom te groot is nie. Met harde werk, toewyding en motivering is daar niks wat jou kan keer nie,” sê hy.

Moses vertel hy het ingeskryf vir Mnr. Suid-Afrika omdat hy die jeug van sy gemeenskap wil inspireer en bemagtig.

“Ek kom van ’n klein dorp en ek streef daarna om groot te droom. Ek wil ’n goeie voorbeeld wees daarvan dat alles moontlik is met die regte ingesteldheid en ambisie.

“Ek wil hê ons mense moenie bang wees om te droom nie.”

Hy verduidelik hy wil die jeug laat verstaan dat hulle groot sukses kan bereik.

“Ons kan ’n verskil maak en ons lewe en die lewe van die mense rondom ons verander.

“Ons het soveel rou talent en potensiaal. Ek wil hê die jeug moet die geleenthede aangryp en hulself toelaat om deur die proses te groei en ervaring op te doen.”

Moses verklap hy wil graag ’n motiveringspreker wees.

“Hoewel ek die geleentheid het om dit by die skool te doen, wil ek die kans vat om nóg mense te bereik. Ek wil my storie met die wêreld deel sodat ek ander kan inspireer.

Stem

“Die Mnr. SA-platform is perfek daarvoor om nóg mense te bereik, veral die jeug van vandag.”

Moses vra mense nederig om vir hom te stem. “Ek het ’n droom, maar ek kan dit nie alleen bereik nie. Ek het die ouers van my mense nodig om op te staan.

“So, asseblief, ondersteun my droom en SMS MRSA75 na 40439. Elke SMS kos R2.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters