2 maande gelede
Een lepeltjie bruinsuiker

‘EK GLO vas musiek het verskillende betekenisse in ons lewe. Wanneer ek my musiek beoefen, ontketen dit sterk emosies en herinneringe aan my reis as musikant.”

Só sê Oslin Jacobs (33), die leier van die band BrownSuga SA.

Die artist maak dit sommer baie duidelik hy stel God eerste in sy lewe, dan sy gesin en dan musiek.

Oslin se liefde vir musiek is al in sy kinderjare geprikkel.

Hy was ses jaar oud toe sy pa, Oscar Jacobs, vir hom ’n ukulele, ’n houtkitaartjie vir kinders, gee.

Sy pa het hom toe daarop leer kitaar speel. Dit was dié kitaartjie wat Oslin sy passie vir musiek laat ontdek het.

“Ek is later deur ons kerk se praise and worship team gementor. Ek kon spoedig al die liedjies op ’n akoestiese kitaar speel.

Stig

“In 2007 het ek aangesluit by die Cape Music Institute in Athlone. Daar het ek verskeie musiekkursusse onder leiding van Camillo Lombard voltooi.”

Toe stig hy Brown­Suga SA. Dit is ’n tipe backing band wat na gelang van die okkasie waarvoor hulle geboek word van verskeie sangers gebruik maak, onder wie Lee-Ron Malgas, Klint Lotz en die liedjieskrywer Candice Thornton.

Die band speel enige genre – jazz, pop, R&B, noem maar op. Dit het tans vier lede: Oslin (baskitaar), Ray Basson (tromme), Denver Damons (kitaar) en Fabian Baartman (klavier). 

gewild: Oslin Jacobs, Ray Basson, Denver Damons en Fabian Baartman is BrownSuga SA. FOTO’S VERSKAF

Op 14 Februarie het BrownSuga SA hul debuut-single, “Crazy”, bekend gestel. Lee-Ron doen die vocals daarvoor. ’n Musiekvideo is ook uitgereik. Die song speel tans op vele gemeenskapsradiostasies landwyd.

“Dié liedjie handel oor gendergeweld. Dit praat van die vrou wat die koningin is.

“Ek voel vroue moet baie meer waardering geniet as wat ons mans hulle gee.

“My visie is ook om minderbevoorregte, talentvolle en opkomende kunstenaars onder my vlerk te neem en hulle te help met hul musiekloopbaan. Ek wil my eie musiekskool open en in samewerking met groot geeste in die plaas­like musiekbedryf werksessies aanbied.

“In hierdie moeilike tyd waardeur ons land met die lockdown gaan, gee dit die kunstenaars tyd om na te dink, terugblikke te gee en op toekomsplanne te fokus.

“Dié tyd het ons kunstenaars ook kwesbaar gelaat in terme van inkomste en dit is ’n gesukkel om in ons basiese behoeftes te voorsien.”

Volgens Oslin is BrownSuga SA in die proses om ’n klerereeks met hul handelsmerk op bekend te stel.

Op ’n vraag oor die groep se naam, antwoord Oslin laggend: “Dit beeld ons kleur uit, bruin, en ons is stroopsoet en van Suid-Afrika. O ja, en ons is trots op ons kleur.”

BrownSuga SA werk ook reeds aan hul volgende single. Kontak hulle gerus by 081 235 3465 of info@brownsuga.org.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters