5 maande gelede
‘Drome kán waar word as jy hard werk’
TALENT: Die opkomende sangeres Nicole van Niekerk beskou haar musiek as ’n manier om te ontsnap.  ~ Foto Verskaf

HOEWEL sy dit nie baie breed gehad het nie, het niks dié talentvolle Bolandse sangeres gekeer om haar drome na te streef nie.

Vandag is Nicole van Niekerk (20) ’n opkomende sangeres wat haar musiek beskou as ’n manier om aan die harde werklikheid van hierdie wêreld te ontsnap. Dít wil sy graag vanaf die verhoog met almal deel.

Nicole vertel: “Ek het sonder my biologiese pa grootgeword.

“Met my ma, Natasha, as ’n enkelouer, was die omstandighede maar moeilik.

“Sy is ook ’n talentvolle sangeres en die sterkste persoon wat ek ken. Sy het my altyd gemotiveer deur alles wat ek aangepak het.

“Vandag druk ek my emosies in my sang uit. Ek weet regtig nie waar ek sonder my musiek sou gewees het nie.”

Nicole is in die Paarl gebore en woon steeds daar.

Hoewel sing nie haar eerste liefde was nie, het hul familie tydens familiebyeenkomste altyd musiek gemaak.

Of dit nou op verjaardagvieringe of troues was, almal het non-stop saamgesing.

Ná matriek in 2018 het Nicole ’n gap year gevat omdat sy onseker was oor watter rigting sy wou inslaan. Haar familie het haar toe aangemoedig om deel te neem aan die jaarlikse talentkompetisie Global Spotlight. Sy is as algehele wenner gekroon.

Nicole het ontpop in ’n opkomende sangeres wat in enige genre kan sing, insluitend reggae, blues, soul en jazz.

Sy het haar buiging laas jaar by die Drakenstein Liggiefees gemaak en vanjaar saam met die 7de Laan-aktrise Nadia Herbst op ’n Valentynsdag-event opgetree.

Nicole het selfs al gesig gewys op die Cape Town TV-program Ek Sê.

“Die Global Spotlight-talentkompetisie het my baie geleer van optrede voor gehore en hoe om op en van die verhoog af gemaklik te wees.

“Graag wil ek die stigter van dié talentkompetisie, Sydwell Beziek, asook Adriana Francke bedank vir hul ondersteuning en die geleenthede in my lewe.”

Nicole studeer management op Boland Kollege se Paarl-kampus.

Sy het ook ’n passie vir drama en modelwerk.

“Dis net ’n jammerte dat alles weens die nasionale lockdown tot stilstand gekom het,” gaan Nicole hartseer voort. “Ek sien uit na die tydskrif Kuier se Moedersdag­konsert in Mei.

“Dít is nou as alles hopelik al na normaal toe terug­gekeer het.

“My grootste begeerte is om my eie musiek en songs te skryf. Ek is veral mal oor jazz.

Toegewyd

“Dan sal ek graag my eie jazz-shows wil doen, met my eie band wat my begelei. Ek sal graag daarmee op toer wil gaan. Dít is op die lang termyn my doel.”

Haar raad aan ander jong mense is: “Geen droom is te groot om bereik te word nie.

“Jy moet net gemotiveer, passievol en toegewyd wees.”

  • Belangstellendes kan Nicole gerus kontak by 071 404 5169 of soulopro6­@gmail.com.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters