5 maande gelede
‘Dis ons mense se verhaal’

‘MY LIEFDE vir drama het begin by ons Kersspel se plays en daarna het ek teaterwerk begin doen.”

Só vertel Kim Bowers van Ravens­mead. Die talentvolle aktrise vertolk die hoofrol in die SABC2-dramareeks Melody.

Bowers sê die mense in haar gemeenskap is haar inspirasie.

“Ek gee altyd my beste omdat ek ’n verskil in my gemeenskap wil maak. Dit is die dryfkrag in my lewe.

“Ek is dankbaar vir God se genade in my lewe, asook vir my familie en vriende vir hul ondersteuning. Daarsonder kan ek nie bestaan nie. En vir die ongelooflike Melody-span vir hul support en daar-wees in my loopbaan.”

Bowers vertel die rol is vir haar ’n big deal.

“Dit is my groot deurbraak waarvoor ek lank gewag het.

“Ek is so bevoorreg om lid te wees van so ’n span talentvolle akteurs en aktrises.”

Sy voeg by sy is ook baie dankbaar vir die kykers.

“Wat my ook baie opgewonde maak, is die fans se ongoing ondersteuning van die program.

“Ons wil die werklikheid van Melody se storie uitbeeld.

“Ons wil lig werp op die groot uitdagings in ons gemeenskappe.

“Ten spyte van al die probleme is daar ongeslypte diamante wat kan skitter en ’n sukses van hul lewe kan maak.”

Die aktrise dink terug aan die dag toe sy gehoor het sy het die rol van Melody gekry.

“Ek was oorweldig toe ek hoor ek het die rol losgeslaan.

“Dit was ’n groot oomblik en ’n mylpaal in my lewe.

“Die dramareeks is so naby aan ons huis en dit vertel die storie van ons mense op die Kaapse Vlakte.

“Dit lê my baie na aan die hart. Dis ’n voorreg om die hoofrol te kan speel. Dis iets waarmee so baie mense kan identifiseer.”

Bowers sê sy en haar karakter verskil hemelsbreed van mekaar.

“Melody is baie emosioneel en broos.

“Ek, aan die ander kant, is baie neutraal en ek laat nie toe dat mense op my trap nie.

“Dis moeilik om, wanneer jy huis toe gaan, uit dit te snap wanneer jy heeldag in karakter was.

“Ek sal soms moody huis toe gaan omdat ek heeldag in die karakter van Melody was.

“Dan is dit nie so maklik om dit af te skud nie.”

Bowers sê hulle probeer met die reeks ’n boodskap van hoop gee.

“Elke dag staar geweldige uitdagings ons gemeenskappe in die gesig – of die mense nou op die strate bly of in ’n huis.

“Die boodskap wat ons wil deurgee, is: Dit maak nie saak wat jy deurgaan of waar jy vandaan kom nie, jy kan bo jou omstandighede uitstyg en die beste daarvan maak.

“Ons almal gaan deur moeilike tye, maar moet nooit twyfel dat daar iets goeds uit ons gemeenskap kan kom nie.

“My motto in die lewe is: As jy nooit probeer nie, sal jy nooit weet nie.”

En hoe hou die aktrise dit uit tydens die grendeltyd?

“In die lockdown het ek nogal die rus en stilte geniet. Ek het ook nuwe resepte probeer en nogal goed gevaar,” vertel die aktrise laggend.

“Ek het weer besef hoeveel ek my familie en vriende waardeer en ons het nader aan mekaar beweeg.”

Haar boodskap aan mense is: “Wees veilig en kom ons wees gehoorsaam aan die regering se reëls. Dis vir ons almal se beswil.”

Die jong aktrise het ook vir ander jong mense raad: “As jy ’n droom het, volg dit.

“Jy is goed genoeg – moet dít nooit vergeet nie.

“Jy kán, want jy is gebore met ’n spesifieke doel.”

Son het ook saam met Celeste Williams gepraat.

Dié boorling van Swakopmund in Namibië vertolk die rol van aunty Flori in Melody. Die aktrise woon deesdae in Kaapstad.

Williams is reeds ’n bekende in musiekkringe.

Sy het egter nooit kon dink dat sy eendag in ’n drama sal speel nie.

“Ek was op ’n eiland in die Seychelle toe het ek die e-pos ontvang. By my terugkeer het ek gegaan vir die oudisie vir die rol van aunty Flori.

“Die dag toe ek daar instap, het die vervaardigers gesê ek is die een vir die rol.

“Ek was baie opgewonde. Ons het ’n jaar gerepeteer.

“Dit was moeilik, maar ons het deurgedruk en vandag is ons trots daarop dat ons ons mense se unieke stories vertel.

Gedroom

“Aunty Flori is ’n afgetrede onderwyseres wat musieklesse in haar gemeenskap aanbied.

“Ek tree ook nog gereeld as musikant op.

Melody is my eerste drama-gig. Dis die beste ding wat met my kon gebeur het. Ek sal die drama graag verder wil vat.

“Dis ’n nuwe ondervinding. Ek het nie gedroom ek sal eendag in ’n reeks speel nie, maar die Here is amazing. Hy maak op die regte tyd deure oop.”

Vir jong mense het Williams wyse raad: “Moet nooit ophou droom nie. Met harde werk en toewyding is niks onmoontlik nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters