4 maande gelede
Dié boek is 'belangrik vir gemeenksappe'
Skrywer: Marvin Borcherds se boek, Disatraat, is binnekort op die rakke.  ~ Verskaf

ONS SAL ons neuse binnekort in ’n briljante roman, Disastraat, van die uitstekende skrywer Marvin Borcherds kan druk.

Dié boorling van Blackheath wat voltyds ’n storyliner by die plaaslike sepie Arendsvlei is, sê toe hy klein was, het hy altyd gedroom daarvan om in ’n mediese rigting te studeer, maar die lewe het toe ’n ander koers met hom ingeslaan.

“Die lewe en God het ’n ander plan met my gehad en vandag is ek glad nie spyt nie. My ouers, wat albei onderwysers was, het ons altyd vryheid van keuse gegee en geglo dat ons die beste sou maak van die geleenthede wat hulle vir ons geskep het.”

Die skrywer, wat die satiriese blog Marvin Borcherds Waai Met Suidooster skryf, vertel hy het sy BA in ontwikkeling en omgewing aan Universiteit Stellenbosch voltooi.

“Ek het ook verder ’n nasionale diploma in events en kommunikasie aan die Cape Peninsula University of Technology verwerf.”

Borcherds, wat ’n LGBTQI-aktivis is, verduidelik hy het al in 2018 aan sy roman begin kerf.

“As kind op albei hoër- en laerskool is ek afgeknou omdat ek altyd anders was of as anders gesien is.

“Omdat ek gay is, het mense altyd op my gepick en dit het my geweldig as jong seun geaffekteer.

“Baie dae wou ek nie skool toe gaan nie. Baie dae wou ek net heeltemal opskop, maar my ouers het my aangemoedig. Hulle het my met die nodige tools toegerus om vir myself op te staan en dit is waar ek my draaipunt bereik het.”

Marvin vertel dat die boek grotendeels deur sy eie ervaringe geïnspireer is.

“Dis wel nie op my eie lewe gebaseer nie, maar dit dek topics wat destyds en steeds relevant is.

“Ek het gesit en dink watter kwessies ons as samelewing nog steeds mee sukkel, en homofobie het vir my uitgestaan.

“Dit was die rede hoekom ek dit oor tieners geskryf het, want ek voel as die boompie gebuig word terwyl dit jonger is, kan ons nog ’n groot verskil maak en beter grootmense word.”

Marvin sê Disatraat handel oor vier tieners wat op die Kaapse Vlakte grootword en daaglikse uitdagings ervaar, maar ten spyte van die gevaar buite vasbeslote is om “iets” van hulself te maak.

“Robin Abrahams, hoofseun van die Hoërskool Dennepoort in Elsiesrivier, is grootgemaak deur ’n enkelma wat seker gemaak het haar kind het alles wat hy nodig het om ’n sukses van homself te maak, maar iets steek kop uit – Robin is gay.

“Sy klasmaat Shaun, wat baie konserwatiewe ouers het, maak oop teenoor hom en hulle deel ’n intieme oomblik.

“Ons sien allerhande drama, van aanranding tot uiterste homofobie, dwelms en geweld.”

Die skrywer verduidelik die boek is belangrik vir ons gemeenskappe.

Disastraat speel af op die hang van die Kaapse Vlakte waar dwelms, geweld, armoede en diskriminasie op ’n daaglikse basis plaasvind.

“Die hoofkarakter is iemand wat ambisieus is, maar wat met ’n geheim rondloop omdat hy te bang is oor wat mense vir hom sou sê oor sy seksualiteit.

“Daar is baie jong seuns en dames daar buite wat hulself in soortgelyke situasies bevind. Hulle weet nie aldag hoe om daardie gevoelens te hanteer nie en maak soms impulsiewe besluite, byvoorbeeld selfmoord of raak by dwelms betrokke.

Sterfbed

“Hierdie boek wys dat al bly jy waar, al is jou omstandighede hoe, al voel jy aangetrokke tot watter geslag, jy is belangrik en jy is kosbaar.”

Marvin vertel hy sal nie gou sy pen neersit nie. “Ek pak nou my tweede novelle aan. Ek hoop om dit in 2021 te publiseer. My pa het in Januarie gesterf en my op sy sterfbed gevra om nooit op te hou skryf nie. So, my eerste roman dra ek aan hom op.”

Disastraat sal vanaf Augustus beskikbaar wees op takealot.com.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters