8 maande gelede
‘Danger in the Dark’ terug by die Baxter
Danger in the Dark
Kyk gerus: Die cast van Danger in the Dark is binnekort weer by die Baxter-teater te sien.  ~ Jesse Kramer

DAVID Kramer se suksesvolle show Danger in the Dark is weer vanaf 9 tot 28 Maart in die Baxter-teater op die planke. 

Dié musiekblyspel, wat gebaseer is op Shakespeare se Othello, was in sy vorige speelvak só gewild, die kaartjies het tjop-tjop uitverkoop.

So, dis g’n verrassing dat dit nóg ’n keer aangebied gaan word nie. 

Dis ’n verwerking van die hit musical Poison, wat Kramer en wyle Taliep Petersen in die 1990’s geskryf het.

Kramer het dit herskryf vir Danger in the Dark, wat die storie vertel uit die perspektief van die maatskaplike werker wat haar tesis oor dwelmmisbruik op die Kaapse Vlakte doen. 

Baie van die oorspronklike songs kom in die nuwe musical voor. 

Kramer het ook ’n uitmuntende kreatiewe span, 8 hoofspelers en ’n koor van 14 persone saamgebring om lewe in die show te blaas. 

Daar is ’n live five-man band.

Die talentvolle Alexis Petersen speel Pamela, Rushney Ferguson vertolk die rol van Juanita, Loukmaan Adams speel Michael, Elton Landrew is Poison, Eldon van der Merwe is Chicco, Tashreeq de Villiers is Lucky, Edith Plaatjies is Mrs. Joseph en Chad Baai speel Shawn. 

Ons het dié week saam met die veelsydige sanger, rapper, danser en akteur Tashreeq oor dié fantastiese musical gepraat.

Sy karakter, Lucky, is die shebeen king.

Hy is dik brasse met die gangster Mr. Mike. Lucky is lojaal teenoor Mr. Mike. 

Wat sy karakter so interessant maak, is dat hy self ’n recovering addict is wat altyd at risk is.

Tashreeq vertel dis ’n eer om met reuse in die bedryf saam te werk. 

“Dit is ’n groot voorreg om saam met hierdie ongelooflike cast, kreatiewe span en natuurlik die legendariese David Kramer te werk. 

“Ek kyk in groot detail na die meer gesoute akteurs wanneer hulle perform sodat ek kan leer. Ek spits my daarop toe om elke dag met elke performance te ver­beter.” 

Hy verduidelik dié musical is belangrik vir ons gemeenskappe, want dis hartseer om te sien dat dinge ná soveel jare nie baie verander het nie.

Die bendegeweld, dwelmmisbruik, asook geweld teen vroue en kinders is nog met ons. 

“Gemeenskappe ly steeds onder dié vlaag euwels. Soms voel dit of dinge vandag erger is met die onskuldige mense en kinders wat gevang word in die kruisvuur van turf wars.”

En Tashreeq se laaste woord?

“Dit is ’n kwaai produksie en almal moet dit sien.”

Kaartjies vir Danger in the Dark kos van R110 tot R205. Jy kan een koop by webtickets.co.za of by enige Pick n Pay-supermark. Daar is ’n ouderdomsbeperking van 12 jaar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters