4 maande gelede
Carlo vereer survivors met 'n online show
carlo abrahams
GROOT HART: Carlo Abrahams skenk die opbrengs van sy konsert aan die Kankervereniging.  ~ VERSKAF

DIÉ Worcesteriet staan reg met ’n aanlyn konsert wat jou tone sal laat krul van lekkerte!

Carlo Abrahams het groot opslae gemaak toe hy sy EP “Still Standing” in Augustus 2015 uitgereik het.

Die talentvolle jong man is ook ’n geseënde gospelsanger wat in 2016 na George in die Suid-Kaap getrek het waar hy tans die leier van die AGS Greenhaven se worship team is.

Carlo werk voltyds in die watersektor vir die Wes-Kaapse provinsie terwyl hy sy musiekloopbaan deeltyds doen.

Dis egter dié plaaslike sanger en liedjieskrywer se eerste virtuele konsert en hy beloof hulle gaan uithaal en wys om jou die beste vermaak in die gemak van jou eie huis te bring.

“Hierdie jaar is so ’n moeilike tyd vir kunstenaars regoor Suid-Afrika.

“Maar die inperking het nie my liefde gedemp om te vermaak en op die verhoog te wees nie.

“Ek hoop om met dié konsert liefde te versprei en almal aan te moedig om deel te wees van die musical journey,” vertel Carlo.

Veldtog

Die sanger het hande gevat met sy mede-Worcesteriete – die Idols-finalis met die kragtige stem Elwira Standili en die charismatiese wenner van die eerste seisoen van Maak My Famous, CheswynRuiters – om deel te wees van sy nuwe show, I CAN-CER VIVE.

Hierdie veldtog se doelwit is om die mense te vier wat met kanker gediagnoseer is en die siekte oorwin het.

Carlo gaan, met die hulp van Elwira en Cheswyn, alle kanker-oorwinnaars se uithouvermoë en inner­like krag huldig.

Hy verduidelik die show gaan ’n bietjie van alles vir ’n diverse gehoor bied.

“Ons het ’n vol program aanmekaargesit sodat almal deur ons performance vermaak kan word.”

Carlo beloof ons gaan getrakteer word op musiek waarop ons lekker kan saamdans.

“Ons gaan ons meer gewilde secular songs doen.

“En ons gaan ook een of twee gospelliedere doen.”

Dis nie die eerste keer dat dié nederige kunstenaar ’n konsert ten bate van kanker-oorwinnaars aanbied nie.

Laas jaar het hy ’n soortgelyke konsert in sy tuisdorp, Worcester, gehou waar hy ál die proceeds aan Cansa geskenk het.

Carlo het self sy pa in 2015 aan kanker verloor.

Daarom sê die sanger hy kan hom vereenselwig met die verpletterende gevoel wat die verlies van ’n geliefde kan veroorsaak.

Carlo het in 2018 die liedjie “Dad, I Miss You” uitgereik. Dis opgedra aan sy wyle derra.

Die single is tans beskikbaar op alle digitale platforms soos iTunes en Spotify.

“Op een of ander manier ken almal van ons iemand wat aan dié siekte gesterf het.

“Aan die begin word kanker gesien as ’n doodsvonnis, maar met close vriende of familie wat help om hierdie stryd teen kanker te baklei, is alles nie hopeloos nie.

“Opsies vir behandeling raak al hoe meer toeganklik en die herstelsyfer is ook aan die toeneem.”

Hy voeg by: “Ek kan, sonder enige twyfel, sê dat die cancer survivors na hul drome uitreik en hulle vind weer liefde en vreugde.

“En dit is waarom dit so belangrik is vir kunstenaars soos ek en die ander om bymekaar te kom vir hierdie waardige saak.”

Carlo verduidelik dat die opbrengs van dié jaar se konsert ook aan die­gene gaan wat dit die nodigste het.

“Hierdie jaar het ek weer gekies om ál die proceeds te skenk aan Cansa in die Boland en Overberg-omgewing.

“Soms vergeet ons van die cancer survivors, maar ons moet ook probeer om seker te maak dat hulle gemotiveerd bly. Hulle het ons steeds nodig.”

Jy het nog genoeg tyd om te spaar vir die aanlyn konsert I CAN-CER VIVE, wat op 12 September plaasvind.

Die kaartjies vir die online show kos R50 elk en kan reeds op quicket.co.za gekoop word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters