8 maande gelede
Baaienaar inspireer oud en jonk met sy musiek
Bereik hoogtes: Earl John het ook onlangs ’n EP uitgereik.  ~ Verskaf

DIE Baaise kunstenaar Earl John het onlangs sy single “Don’t Lie to Me” uitgereik.

Hy vertel ons sy musiekloopbaan was nie altyd maklik nie, maar dat hy altyd daarna gestreef het om die beste te wees en hard te werk vir dit wat hy in die lewe wil bereik.

“Dit was nog altyd my droom om op die grootste stages op te tree en gehore regoor die wêreld te vermaak.

“En oor die laaste paar jaar is ek die geleentheid gegun om oorsee te gaan werk en vakansiegangers in Europa te vermaak.”

Die sanger wei ’n bietjie uit dat hy met verskeie gesondheidskwessies gesukkel het terwyl hy oorsee was.

“In 2016 het my longe platgeval en ek was beangs dat ek dalk nooit weer sou kon sing nie. Ek het toe in September 2016 ’n long-operasie ondergaan.”

Die operasie was ’n sukses en dit was nie lank nie, toe kon hy weer op die verhoog sy ding doen.

“Ek het in Oktober 2017 weer begin perform, maar toe lol dinge weer.

“My longe het wéér platgeval en ek was toe oortuig dat dit die einde vir my is.”

Earl vertel dis net sy geloof wat hom in dié moeilike tyd staande gehou het. “Ek het geglo dat ek wel my droom gaan bereik.”

Ná verskeie operasies het die Baaienaar sterk gestaan en ’n wonderbaarlike terugkeer na die musiekbedryf gemaak.

“Ek het sover vier suksesvolle seasons oorsee gehad waar ek opgetree het.

“Ek het aangehou met my passie vir entertain en musiek maak.”

Dinge gaan nou so goed met die sanger dat hy onlangs sy EP getiteld This is Me uitgereik het.

Op die EP sing hy van die uitdagings wat hy deurgemaak het. Hy wys ook ’n heel nuwe sy wat sy musieksmaak betref.

Geskryf

“Ek droom daarvan om oud en jonk met my musiek te inspireer en ek hoop om nog hoër hoogtes in die musiekbedryf te bereik. Ek glo met harde werk en deursettingsvermoë is alles moontlik.”

Earl vertel trots dat hy self sy nuwe single geskryf het.

Hy verduidelik dat die single oor die liefde gaan.

“In die lewe gaan ons deur baie dinge as dit by die liefde kom. Daar’s verskillende maniere waarop jy iemand kan liefhê. Soms kan jy baie selfsugtig wees.

“Die single handel oor liefde op sy beste, maar ook sy slegste, wanneer on­sekerhede inkruip en beloftes verbreek word.”

Hy sê Ebrahim Mallum van Kaapstad het die single vervaardig.

Julle kan Earl se nuwe single, “Don’t Lie to Me”, op digitale platforms soos iTunes en Spotify aflaai.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters