6 maande gelede
Aktrise is reg virrie wêreld
Schelaine Julia Bennett
Blink uit: Schelaine Julia Bennett is reg om haar stempel oorsee te gaan afdruk.  ~ Verskaf

SCHELAINE Julia Bennett (34)  is reg om die wêreld oor te neem.

Ons sal dié talentvolle aktrise onthou as aanbieder van die jeugprogram Hectic Nine-9. 

Sy het ook al gesig gewys in plaaslike projekte soos Saints & Sinners, Ingoma, Gold Diggers en Knapsekêrels.

As kind het sy daarvan gedroom om in showbiz te wees.“Ek wou nog altyd perform – maak nie saak of dit toneelspel, dans of sing was nie.

Die aktrise, wat in die Kaap grootgeword het, het in die sepie Generations: The Legacy die rol van Zoe Phillips vertolk.

Meer onlangs was sy te sien as Clau­dette Roberts in Isidingo.

Sy was nie net plaaslik op die kassie nie. Die skone Schelaine was ook al deel van ’n hele paar internasionale projekte.

Sy het gesig gewys in Love on Safari (Hallmark, Amerika).

Dié veelsydige performer, wat aan die Waterfront Theatre School by die V&A Waterfront geswot het, het ook al plaaslik en inter­nasionaal in musiek­video’s en advertensies verskyn. 

Sy is in musiekvideo’s van die superster Jamie Foxx en Natasha Bedingfield, en sy het ook al die voorreg gehad om ’n back-up-danser vir die legendariese MC Hammer te wees.

Dit was die aktrise se begeerte om meer plaaslike projekte te doen.

Toe verruil sy Kaapstad vir die besige Johannesburg.

“Ons het asemrowende stories in die land wat vertel moet word.  En ek wil deel daarvan wees om dié stories te vertel.”

Met haar skuif na die Goudstad het sy die kans gekry om twee van haar gunstelingrolle te vertolk: Claudette Roberts in Isidingo en Jill Breytenbach in Gold Diggers.

“Claudette het my uitgedaag, en my groei as kunstenaar en vrou is beautiful.

 “Benewens om alle tipe emosies te speel en talle layers van die karakters na vore te bring, het ek die voorreg gehad om met vuurwapens te speel. Ek het ook goeters aan die brand gesteek en ek het my eie stunts gedoen, saam met groot sterk mans.”

Net soos die res van Suid-Afrika is die aktrise emosioneel oor Isidingo, wat binnekort tot ’n einde kom nadat dit meer as twee dekades op die kassie was.

“Ek het die show vir die grootste deel van my lewe gekyk en as aktrise het ek gebrand om daarin te speel. 

“En toe kry ek wat heel moontlik plaaslik my beste rol is – net om uit te vind dat ek lid is van die span wat finaal aan die show koebaai gaan sê. Dis hartseer, maar ek is dankbaar dat ek deel kon wees van so ’n grootse show.

“Ek gaan die mense mis, asook om werklike, relatable en current Suid-Afrikaanse stories te vertel.”

Maar dis nie waar dinge ophou vir die skone Schelaine nie.

Sy speel in Amazon se fantasiereeks Good Omens. Sy gaan ook te sien wees in die speelfilm Monster Hunter – saam met Milla Jovovich, Meagan Good en die rapper T.I

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters