4 maande gelede
Akteur bly oor tawwe storielyn
gershwin mias
MOEILIKHEID INNIE VLEI: Zane se ma (gespeel deur Shimmy Isaacs) skel hom uit oor hy ongehoorsaam is.  ~ 

VAN kleins af droom Gershwin Mias al oor ’n loopbaan in toneelspel.

Dié akteur wat die rol van Zane Meintjies in die local telenovela Arendsvlei vertolk, vertel ons hoe sy loopbaan begin het.

“Van laerskool af het ek ’n liefde vir teater en rolspel begin ontwikkel,” sê hy.

Dié 27-jarige van Eersterivier vertel laggend verder: “Ek het altyd alles nageaap wat ek destyds saam met my oumagrootjie op televisie gekyk het.

“Ek sou haar toelaat om my op te dress – maak nie saak of die karakter ’n man of vrou is nie.

“Dan het ek toneel gespeel vir myself of vir my oumagrootjie – en dit is waar my liefde vir rolspel begin het.

“Op laerskool het ek altyd aan konserte deelgeneem en toe ek op hoërskool kom, het ek drama as ’n vak geneem.

“Ek het later in my hoërskoolloopbaan dans ook geneem. Toe ek klaar is met skool, het ek by die Universiteit van Kaapstad aansoek gedoen vir dans en by die Universiteit Stellenbosch om my graad in drama te doen.”

Die akteur sê ná sy matriekjaar het hy ’n besering opgedoen en kon nie sy dans-oudisie by die Universiteit van Kaapstad bywoon nie.

“Dit was amper asof die noodlot vir my gekies het om drama te doen, want ek moes daai jaar kies tussen drama en dans.”

Hy vertel sy eerste professionele gig was toe hy in ’n teaterstuk by die KKNK opgetree het.

“Vanaf 2011 het ek in verskeie teaterproduksies gespeel.

“Ek het elke jaar vanaf 2011 produksies gedoen vir feeste, asook residencies soos die Theatre Arts Admin Collective in Observatory.”

In 2013 het Mias in Deon Meyer se fliek Laaste Tango gespeel. Hy was ook in 2015 te sien in die flieks The Endless River en in 2016 in Noem my Skollie.

Hy het boonop in 2018 in die fliek Ellen: Die Storie van Ellen Pakkies gespeel.

“Ek het die rol vertolk van Rifaat, die hoofkarakter Abie (Jarrid Geduld) se beste vriend.”

Mias lig die hoogtepunte in sy loopbaan uit deur te noem: “Ek het Shorty in Noem my Skollie gespeel. Ek het laas jaar in die M-Net-reeks Trackers gespeel.

“Ek het ook in SABC 2 se The Riviera gespeel.

“Ek was ook te sien in die reeks Projek Dina.

“Daai is die rolle wat vir my uitgestaan het.”

Die akteur is tans gewikkel in ’n interessante storielyn in Arendsvlei waar sy karakter – ’n 17-jarige sokkerster – aangepor word om dwelms by die skool te verkoop.

“Dit is ’n storielyn wat baie relevant in ons gemeenskappe is.

“Dit is ’n reminder aan ons mense dat hierdie ’n realiteit in ons skole is.

“Ek is bly dat die skrywers daai rigting ingeslaan het, hoewel dit nie altyd lekker is vir die kykers om dit te sien nie.

“Ek het ’n paar comments raakgelees waar mense nie te hêppie is met die darkness wat nou en dan ingebring word nie.

“Maar dit is ongelukkig wat die realiteit van ons mense is.

“Dit is wat aan ons mense gewys moet word sodat die kinders daaruit kan leer.

“Die ou met wie Zane tans besig is, Woelag, het Zane sommer uit sy sokker-boots gecharm. Zane is ’n arrogante seun, maar terselfdertyd is hy ook ambisieus.

“Omdat Zane doelbewus sy sokkerloopbaan najaag, het Woelag ’n loophole gesien om hom te gebruik.

“Daar gaan nog baie dinge in dié storielyn gebeur en dit het alles te doen met die keuses wat Zane maak.”

Smakie

Mias vertel hy sien homself tot in lengte van dae toneelspeel.

“Gelukkig kan ’n mens acting doen tot op ’n hoë ouderdom.

“Ek droom daarvan om in internasionale flieks en reekse te speel.

“Maar ons moet klein begin. So, vir eers wil ek hier groot naam maak.

Noem my Skollie het my ’n smakie hiervan gegee toe ons in 2016 vir ’n Oscar-toekenning benoem is. My doelwit is om baie, baie hard te werk sodat ek eendag internasionaal kan gaan.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters