Verlede maand
Zion se lion glad nie meer iron
Jan Swarts  ~ Foto Verskaf

PRINCE sing mos: Sometimes it snows in April.

Sometimes I feel so bad, so bad. Sometimes I wish life was never-ending. And all good things, they say, never last ...

By die afdraai na die plakkerskamp staan ’n reghoekige padpredikant en groet: “Welcome in Zion Park. Follow your dreams and don’t give up.’’

Oorvloed en weelde woon nie hier nie.

Dié inwoners is gewoond aan ’n sukkelbestaan bo-op ’n weggesteekte, koue, wit gerypte vullishoop.

Dis ’n nagmerriebestaan ver van die “see van hoop”, want armoede het ingetrek toe die eerste houtpaal vir ’n sinkhok ingeslaan is.

Donderdag die 23ste dag van Madibamaand sien ek hoe ’n groep inwoners moedig in ’n kosry staan.

Sedert die aanbreek van hierdie pesjaar is dít waar hulle bedags ’n maaltyd kry. Só staan hulle daar, met lapmaskers windskeef oppie ken.

Maskers oppie mond bied mos nie beskerming teen die hongervirus nie.

Tog het die oë geblink en die oopmond smiles kon in enige tandepasta-advertensie gewys word.

Saans stuur ghellieblik­vure donker SOS-rookseine die Steenvliet-woonbuurt in.

Samari­tane deel smiddae kos uit in antwoord op die aand se noodkreet.

Die pandemie het mense aan die onderpunt van die voedselketting se bestaan uitgedaag en dit corona-suur gemaak.

Die bergpiek is ’n stille getuie van die swaarkry wat daagliks onder haar voet oopvou. ’n Groep Rastafa­riërs was reeds op dié hoogte besig om gereed te maak om Haile Selassie I, ontslape Ethiopiese heerser en ikoniese geestelike leier, se geboortedag te herdenk.

’n Splinternuwe driekleurvlag het windmakerig hoog in die lug gewapper, in skrille kontras met ’n tekening van ons seskleurige landsvlag wat eens op ’n tyd ’n sinkhok opgehelder het.

Ná baie jare van elemente trotseer, het die reënboog weggeroes.

Die nat winter het ryp geword, want sitrusvrugte op die tafel was ’n lus vir die oog, maar is afgesonder vir die Rastabroeders wat later by die fees sou aansluit.

Ek sluk aan ’n kruiedrankie wat iemand my aangebied het en wat toe bitter op my tong byt. Sonder om die land se anti-zol-rasieleiers uit te daag, het die dreadlock-manne ’n marijuana-wolkkolom die bloute in laat opstyg.

Doer onder hoor ek die kreun van sinkhokke wat smag vir beter dae onder die gewig van klippe oppie dak.

Dis beslis nie ’n wintersprokie wanneer mense vir kos toustaan om ’n leë maag te vul nie.

Toe die laaste skraapsel opgeskep is, het die knegte van dié mense die potte agter op die bakkie gelaai, stadig weggery en hoop agtergelaat.

Die dreadlock-manne se brandhoutvuur het soos ’n jong leeu ontwaak wat met ’n rooi bloedtong die donkerte weg lek.

Die mense van Zion Park in Touwsrivier se droom vir ’n kleurvolle toekoms het beslis nie verander nie; die tyd het ...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters