8 maande gelede
WP-fan speel die blame game
Christo Meyer  ~ Foto Verskaf

‘DIS Damian se skuld.”

Só sê ’n om­gekrapte WP-ondersteuner Maandag­oggend in Bellville.

“Dis deur Damian dat ons daai game teen die Bulle verloor het.

“As Damian nie so sleg pale toe geskop het nie, kon ons gewen het.”

Ek staan eenkant, op my selfoon doenig, maar ek hoor elke woord wat uit sy mond kom; die vloekwoorde ook so tussenin.

Dit is vloekwoorde wat ek liewer nie nou hier gaan herhaal nie.

Ek is half verbaas toe ek op Facebook sien Manchester United het teen alle verwagting in ’n agterstand van 0-2 uitgewis om Southampton met 3-2 te klop.

Is die dae van wonderwerke nog nie verby nie?

Eintlik is my aandag by die rugby-geselsie ’n entjie van my af.

Gereken

Ek kry die idee dat dié meneertjie geld op die WP gewed het en teleurgesteld is omdat hy ’n lelike bloutjie geloop het.

Hy’t seker gereken dit gaan weer ’n walk in the park wees omdat die Bulle hóéveel jaar laas op Nuweland kon wen.

Het hy rekening gehou met die wilskrag van die Bulle, wat vir ’n groot deel van die wedstryd net met 14 man moes speel?

Ek dink nie so nie. ’n Gekweste Bul is ’n gevaarlike Bul.

En ’n wiel is ’n ding wat nie net op een plek vashaak nie. Hy draai.

Ek verkyk my altyd aan ouens wat nie wil verstaan rugby is net ’n sportsoort en daar kan maar net een wenner wees nie.

Al maak jy ook verskonings totdat jy blou (soos ’n Bul) in die gesig is, dit gaan niks aan die uitslag verander nie.

Die koeël is deur die kerk en nie eens ’n pastoor se gebed gaan vir ’n teenoorgestelde uitslag sorg nie.

Toegegee, miskien was die WP op die dag ’n raps beter as sy opponente en hy moes die wa deur die drif getrek het. Skopkanse is egter daar om geneem te word en as jy joune deur jou vingers laat glip, moet jy die gevolge dra.

Aan gedane sake is daar geen keer nie.

’n Mens sou regtig verwag het Damian Willemse sou die wind Saterdagaand op sy tuisveld beter lees en nie so (wind)skeef korrel nie.

Blaam

Dus is dit onvermydelik dat hy onder kritiek sal deurloop.

Daar is laities wat opkyk na hom en verwag hy moet beter doen.

Maar om die blaam vir die loesing net op een speler te pak, is effens onregverdig. Rugby is ’n spansport.

Die afrigtingspan kan ook bevraagteken word oor waarom die WP-kaptein sowat 20 minute voor die einde vervang is.

’n Leier is mos veronderstel om enduit op die veld te bly, tensy hy ernstig beseer is. Maar wat weet ek?

Meneertjie het later langs my kom staan en gesê: “WP kort ’n ander losskakel, nè? Stem jy saam, my broe?

“Damian gaan die span nog baie in die steek laat.”

Ek het hom nie geantwoord nie. Net ’n skewe glimlag gegee en weggeloop.

As ’n jare lange Blou Bul-ondersteuner het ek niks met ander unies se spankeuses te doen nie ...

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters