6 maande gelede
Wie red ons kinders terwyl die skooljaar gered word?
skool
Foto ter illustrasie: Jonathan Lestrade  ~ 

ONSE regering is dié week innie toe (oop?) skool gesit. Jong, dis een hele f-op!

Die NCCC, die National Confused Corona Council, behoort die blaam te kry.

Dis hy wat vir Angie Mot­shekga gesê het sluit oop die klaskamers. Terwyl die minister van basiese onderwys toe nog voor die skoolhek staan om dit oop te sluit, kry sy ’n reminder van wie lui die skoolklok!

Dis toe die unies haar op ’n Saterdagaand in detensie sit.

Hulle het tóé al geweet skole gaan nie heropen nie, maar die minister voel om dié inligting eers net voor die 20:00 movie Sondagaand met die land te deel. Gehoorsame kinders was teen dié tyd al gebad en in die bed en g’n niemand wil daardie tyd van die aand sit en worry oor goed regkry nie. Op Twitter vra iemand of sy eers geoefen het om Covid en nie Codiv te sê nie.

Om die hel verder uit almal te confuse, sê die Wes-Kaapse onderwysdepartement toe sy skole sál heropen.

Nie almal het dié memo gekry nie, met die enigste boodskap op nasionale TV: “Geen skole open hierdie week nie”.

Om dinge verder te complicate, sê die WKOD om die getal persone op die skoolperseel te beheer, “word die media nie op skoolgronde toegelaat nie weens kommer dat die media die skoolpersoneel aan die virus sal blootstel”.

Die ironie hier is dat personeel en leerders van openbare vervoer gebruik maak, waar hulle ook aan die virus blootgestel word.

Dis ook reeds algemeen bekend van outbreaks van die virus by winkels en tog het niemand gesê moenie winkel toe gaan nie.

Wat baie van ons moet moerig maak, is die feit dat die regering skynbaar op papier gereed is vir skole om tydens die Covid-19-pandemie te heropen.

Dít terwyl die hele onderwyssektor (lees dié op die skoolgronde) sê nee, ons is nie.

Die departement is haastig om die skooljaar te red, maar wie probeer nou ons kinders se lewens red? Of gaan die departement en ministers, soos daai dokter die ander dag, sê: “Dis maar net ’n klein getal wat gaan sterf”. Klein of groot, één is een te veel.

Teen Donderdagoggend was daar reeds 5 Covid-19-verwante sterftes jonger as 18. Almal gaan saamstem, opvoeding ís belangrik en skole móét heropen.

Pleks van die rush hour vir dit, waarom nie eerder time frames stel vir wanneer die nodige maatreëls in plek moet wees nie?

Geen ouer moet hul kind begrawe nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters