4 maande gelede
Sondagkoerant is nie vergete ná algehele Son-verduistering
Salmon Smith  ~ Foto Verskaf

’N ALGEHELE Son-verduistering het oor ons toegesak.

Daar is nou donkerte in my hart. My hart is seer en my gemoed het versomber.

Die Son het gesak oor Sonland – Sondae gaan nooit weer dieselfde wees nie.

Dit was soort van tradisie in my huis dat ek, net ná Sondagmiddagete, wanneer vele daai gebruiklike “vetmaak-middagslapie” vat, my Son op Sondag vat en van voor tot agter deurlees.

Dit was voorwaar ’n familiekoerant wat jou als gegee het: Sagte nuus, van jou celebs se dinge, gospelnuus en ’n lekker Oom Sonnie-verhaal om mee af te sluit.

Ongelukkig het omstandighede buite ons beheer ’n stokkie kom steek voor dáái genot en plesier. My gunsteling-Sondagkoerant moes ongelukkig sluit en gaan nou ’n groot leemte laat.

Dit voer my terug op die golwe van nostalgie...

Ek het 10 jaar gelede by Son op Sondag betrokke geraak op aanbeveling van wyle Melvin Whitebooi, of Boeta Melly, soos ek hom genoem het. Hy het my eenkeer gevra of ek belangstel om bydraes te lewer vir sy Oom Sonnie-kolom.

Ek het sy uitnodiging toe met albei hande aangegryp. Dit was nog altyd my droom om eendag ’n skrywer te word.

Op Sondag 17 Februarie 2010 verskyn my eerste kortverhaal, “Henry se selfmoord”. Dít het so ’n groot indruk op Boeta Melly gemaak dat ek pal moes kortverhale instuur.

Later het ek soveel selfvertroue gehad dat ek my hand aan rubrieke gewaag het. My eerste rubriek as gasskrywer het op 11 Desember 2011 se Kykie Hoorie-rubriek verskyn. Die reaksie daarop was verbasend. Ek was toe gereeld gasskrywer.

Ek het later ook op die Gospelblad bydraes gelewer, maar het dit toe maar laat vaar.

In 2016 het my selfvertroue al so gegroei dat ek toe my hand aan artikels gewaag het. My eerste een op die Opskop-blad (21 Augustus 2016) was oor die Kaapse komediant Ashley Pienaar.

Dít het my laat besluit om die stem te wees vir jong, opkomende musikante, akteurs en dansers.

Só het ek my joernalistieke gawe geslyp. Dit het later my passie geword en ek was selfs bereid om dit verniet te doen. Tot op hede het ek byna 100 bydraes vir Opskop gelewer. Ongelukkig eindig alle goeie dinge.

Son op Sondag, ’n koerant wat omgegee en gecater het vir sy lesers, sal beslis gemis word. Dit het ’n spesiale kamer in my hart gehad – ’n kamer wat nou leegstaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters