24 dae gelede
Sit gehoorsaamheid op jou lys
 ~ 

DIE jaar 2020 gee nou sy laaste doodsroggel – as ek dié term maar kan gebruik, gesien in die lig daarvan dat so baie mense dié jaar geliefdes aan Covid-19 verloor het.

Hierdie jaar het baie hartseer gebring – ’n seer wat nie sommer gou sal genees nie.

As ek nou moet terugkyk op dié jaar, kan ek dit ver­gelyk met ’n bos brandnetels­ waardeur ek hardloop.

Brandnetels is geniepsig en daardie klein mikroskopiese “gifpyltjies” brand die hel uit jou uit.

Maar soos gewoonlik het ons mos aan die begin van die jaar wonderlike Nuwejaarsvoornemens gehad.

Soos in my geval was dít die jaar waarin ek ’n groot mylpaal in my lewe sou vier.

Op 28 Maart het ek 50 jaar oud geword – ’n halfeeu!

Groot was die vooruitsig toe ek die vieringe daarvan deel van my Nuwejaarsvoornemens maak.

Die reëlings van die verjaardagpaartie het sommer lekker vreugde in my hart gebring.

’n Heerlike spitbraai was deel van die spyskaart, met ’n bekende dans-band wat die gaste sou vermaak met lekker musiek.

Maar met die laaste afrondingswerk aan hierdie langverwagte paartie doem die bos brandnetels voor my op.

En toe, op 27 Maart, begin ’n landwye lockdown soos afgekondig deur pres. Cyril Rama­phosa.

Hoewel ek so iets te wagte was, het ek nie besef dat dit só gou al sou gebeur nie.

My verjaardag-bash is toe daarmee heen.

Eers het die gedagte by my opgekom – soos by die meeste mense – dat die leiers oor die wêreld heen weer besig is met die een of ander onderduimse ding.

Dat hulle die mensdom stelselmatig in ’n sekere rigting wil inforseer.

Soos ’n Nuwe Wêreld-orde waarin ons net gehoorsaam moet wees aan hul ongoddelike reëls en regulasies.

Ek het selfs later gedink dat Covid-19 ’n sogenaamde siekte is wat wêreldwyd gefake­ word, as deel van ’n money-making scheme.

En dat mense nie werklik doodgaan aan Covid-19 nie, maar aan gewone “God­siekte”.

Gesukkel

Maar toe ek vriende, familie en kollegas begin verloor as gevolg van die siekte, het ek besef dat Covid-19 ’n werklikheid is.

Op Krismisdag, vroeg die oggend, is ’n homeboy van my daar in Rawsonville dood in sy bed aangetref.

Die ambulanspersoneel het agterna ook gesukkel om sy vrou se lewe te red.

Toe, boonop, is ’n bekende pastoorvriend van my net ná sy Kersdiens dood.

Toe moes ek later op Facebook lees van nog ’n bekende in mediakringe wat die tyde­like met die ewige verwissel het – ’n paar dae nadat hy sy ouers begrawe het.

Nog steeds is daar mense wat roekeloos lewe en ander se lewe in gevaar stel.

Môre begin ’n splinternuwe jaar met nuwe uitdagings – en Covid-19 is nog steeds met ons.

Kom ons maak gehoorsaamheid deel van ons Nuwejaarsvoornemens en skep ’n gesonder omgewing vir ons almal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters