Verlede maand
SA is positief, Covid-negatief
Keith Meyer  ~ Foto Verskaf

NOEM my maar ’n aartsopportunis.

Vele sal jou glo en menige nie. Maar hierie ekke bly Suid-Afrika-positief.

Soos feitlik elke meningstuk week ná week in koerante en op TV verskyn, sou ’n mens sweer Suid-Afrika is reeds ’n mislukte staat.

Nee, kyk, ons struggle ’n helse hou, maar ons het nog nie totaal misluk nie.

Soms moet jy positief wees te midde van omstandighede waar dit beter is om negatief te wees. Covid-wise, djy wiet.

Want sien, even te midde van die Covid-struggle het ons van die beste herstelkoerse in die wêreld.

Slaghuisbaas

So baie om voor dankbaar te wees. Ons kan na die beste dokters en verpleegsters gaan en hospitale gee ons die beste behandeling. Ambulanse ry steeds. Ons het nog ’n petrolprys wat so af en toe daal.

Ek kan die plaaslike supermark besoek en ál die produkte wat ek soek, daar kry.

By die plaaslike chemist is ál die dringende medikasie. Ek kry die beste vars vleis by my slaghuisbaas, Lammie. Ons paaie is vol gate, maar dit lei ons nog na ons bestemming.

Ons skole is nog oop en onder die omstandighede kry ons kids steeds goeie onderrig.

Ons klap hande in koortjies in kerke, want ons aanbid steeds vry ... al kruip ons steeds agter maskers weg.

Ons het nog bure wat omgee. Ons sukkel met die werkloosheidskoers, maar diegene wat wel werk het, gee darem nog om vir diegene wat struggle.

Ons polisie is nie almal korrup nie en vang steeds skelms met dwelms.

Ons munisipaliteite struggle, maar steeds word ons vullis darem verwyder.

Eskom neuk, maar die ligte bly darem meestal aan.

En terwyl jy hierdie lees, is jou gunsteling-koerant darem steeds elke oggend klokslag betyds met die varsste nuus. Cyril het nou weer die soveelste ekonomiese herstelplan aangekondig. Dit gee mos hoop, of hoe?

Senekal was toe nie die begin van ’n burgeroorlog nie. Nee, die strate was wel kakie en rooi, maar die strate was nie rooi van bloed nie.

Wie sê ons kan nie dankbaar wees nie?

Die justice system is steeds in plek en die NPA kap toe.

Ons Jerusalema dat die aarde bewe en ons het darem vir Reggie B ... al issit met ’n kolletjie “i”.

Ons leef in ’n land waar ons nog, soos die digter skryf, “vry kan asemhaal en in ’n God kan glo”. Viva!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters