Verlede maand
Ons moet juis nou vertroue bou
Nicolette Fouldien  ~ Foto Verskaf

HIERDIE week doen ek house sitting op ’n kleinhoewe in Tesselaarsdal, ’n mooi dorpie met outydse bekoring en asemrowende natuurtonele.

Ons lewer ’n diens, maar dit voel soos vakansie.

Die laaste paar maande was ons vasgekluister in ons huise weens die corona-pandemie, so ek verwelkom die wegbreek met my hele hart.

Dis hartseer om van ons kliënt te hoor dié pragdorpie loop ook onder misdadige elemente deur.

Hy is ’n bejaarde enkellopende persoon en het al drie keer onder inbrake deurgeloop. Dis dan ook die rede dat ons sy huis oppas.

Ek is bly hy het darem nog genoeg vertroue in die mensdom om vreemdelinge ’n week lank in sy privaat spasie toe te laat. Deesdae kan jy amper net mense vertrou so ver jy hulle kan sien.

Ek is gelukkig dat ek en my wederhelf die house sitting saam kan doen. Nou voel dit nog meer soos vakansie.

As hy net sal onthou om sy huismaniere by die huis te los. Ek is nie lus om sokkies van die vloer af op te tel en elke keer die toilet seat af te slaan nie. Ek wil die tyd gebruik om so veel as moontlik inspirasie uit elke oomblik te put.

Die afgelope paar maande was hard op ons almal en dit sukkel nog om gewoond te word aan die nuwe manier van leef.

Hier op die kleinhoewe groei ’n magdom vrugtebome. Appelkose, perskes, vye en ’n laning amandelbome.

Sommige bome dra, ander is besig om te bot. Die mooiste pienk en wit blommetjies. Dit laat my dink aan die lewensiklus.

Die corona-virus het ons weer laat besef hoe kosbaar die lewe is. Dat ons ondanks die stygende sterftesyfer moet voortgaan om te bot. Dat ons moedig moet blomme dra om vrugte te kan verskaf.

Ons kliënt het ’n klein steekhaarbrakkie waarna ek ook moet kyk. Sy’s 15 jaar oud, doof met ’n hartprobleem.

Haar naam is Blondie en sy moes eens ’n pragtige haredos gehad het. Nou is haar haartjies stokkerig.

Hierdie statige dame het diep in my hart ingekruip. Ek weet hoe moeilik dit vir ons kliënt moes wees om hierdie liefkind in ons sorg te los.

Ek met myself belowe ek sal baie, baie mooi na haar kyk. Sy verlang na haar pappa en dis moeilik om op haar ouderdom verandering te hanteer.

Hierdie house en pet sitting doen my regtig goed. Ek sal dit elke dag kon doen.

Dis lekker om te weet iemand het soveel vertroue in jou en nog lekkerder om aan hulle te bewys jy is hul vertroue werd. Dís hoe ons elke dag en met elke daad met ons medemens moet omgaan.

Maande lank het ons nou die lelik en die mooi in ons landsburgers gesien. Mense in gesagsposisies wat ons staatskas skaamteloos plunder en mense wat alles in hul vermoë doen om hul medemens in nood te help.

Mense wat ons vertroue liederlik skend en mense wat ons vertroue werd is. Kom ons bou vertroue sodat die skaal skerp na daardie kant oorhel.

Lewe so dat mense hul vertroue in jou kan stel, al is jy vir hulle ’n vreemdeling.

Ons het nou regtig nodig om mekaar te kan vertrou.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters