17 dae gelede
Noem uitsluiting op sy naam
Willem Fransman Jr.  ~ Foto Verskaf

VANDAG is ek moerig. Moerig vir leerders én hul ouers wat wraggies, teen alle gesonde verstand in, ’n matriekafskeid gaan hou het.

Hoekom het hulle in die eerste plek so ’n funksie beplan en deurgevoer? Omdat hulle kan?

Omdat hulle die geld het? (En ander dalk nie?)

Het hulle dit gehou sodat die betrokke leerders nie eendag as hulle as oumense op hul stoep sit, sal sug dat hulle tog nie ’n matriekafskeid gehad het nie?

’n Paar gruwelike foute is beslis gemaak.

Hoekom net sekere leerders, veral dié met ’n ligter velkleur, aansê en uitnooi?

Waarom is die klasmaats van kleur nie ook maar gevra of hulle nie wil saam kom sokkie nie?

Waarom dit enigsins ’n matriekafskeid noem, selfs al was daar matrikulante en hul ouers teenwoordig?

Teen hierdie tyd weet almal, danksy die sosiale media, dat dit eintlik maar ’n paar vriende (lees wit) was wat van hul maatjies (lees wit) wou afskeid neem!

Toe die paw-paw die fan strike, word dit na ’n “privaat matriekafskeid” herdoop!

Hel, hoe cunning kan sommige mense wees!

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement neem die Pilatus-roete en was sy hande in onskuld.

Dit is nou wel ’n groep ouers wat die event gereël het, maar iemand in beheer moes seker iets geweet het?

Volgens ’n bemarkingsbestuurder van die skool was hulle nie betrokke by die event nie.

So, almal staan nou uit die water uit.

Toegegee, ons woon nou in ’n demokratiese bestel en vryheid van assosiasie word wel vooropgestel.

’n Mens kan seker na ’n funksie nooi wie jy wil. Tog kry ek (en ook die gegriefde, uitgesluite skoolgemeenskap) die gevoel dat hier eerder van “uitsluiting” gepraat moet word.

En as die ongenooide klasmaats (lees nie-wit) sou opdaag? Sou hulle met ope arms ontvang gewees het?

Hulle is immers klasmaats. Maar nou weet ons ook wat met ongenooide gaste gebeur ...

Wat egter agter toe deure gebeur ... wel, dit spoel toe later oor na die strate waar dit tot ’n liederlike straatgeveg gelei het!

Manne en vroue in rooi barette en T-hemde teen die ouers ...

Het mense vergeet dat die Rooi Barette deesdae soos Amerika wil wees? Almal se ouboet.

Hulle veg aan jou kant as ’n haarproduk-advertensie aanstoot gee.

Hulle veg aan jou kant as daar Khoi/San-reëndans­tekeninge op dooswyn-houers verskyn.

Hulle veg aan jou kant as jy uitgesluit word van jou eie matriek-afskeid! Hoekom?

Ek is nou sommer moerig, want het die Rooi Barette nog nie geleer dat geweld niks regmaak nie?

Daar is ook iemand gearresteer ná die hele onsmaaklike voorval.

Ek is vandag moerig ... sommer moerig met myself ook omdat ons in 1976 nóóit daaraan gedink het om ons eie “privaat matriekafskeid” te reël toe noodtoestand-wette ons verbied het om wel een te hê nie!

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters