15 dae gelede
Met visie kom ’n beter lewe
’N LANG PAD: Vincent Nelson, George “Dallie” Hendricks en Freddie “Kapokkie” Juries is groot vriende.foto: WILLEM FRANSMAN JR.  ~ 

HULLE kom ’n lang pad saam – die driemanskap bestaande uit Vincent Nelson, George “Dallie” Hendricks en Freddie “Kapokkie” Juries.

Dié drie vriende glo deur winterkoue, wind en mooiweer, en selfs in drukkende somershitte in mekaar.

Dié drie manne ken van vroeg opstaan om net die beste vrugte en groente, in seisoen, vir hul klante te kry. Want sien, hulle drie is smouse,ware brokers, soos daar op die Cape Flats na hulle verwys word.

Die leier van die groep is die ambisieuse Vincent, ’n man met ’n visie.

Hy is iemand wat nie net sy eie lewe nie, maar dié van sy twee vriende wil verbeter.

Dis hy wat, terwyl hy nog vir sy brood in ’n groot staalfabriek gewerk het, ’n enorme besluit geneem het.

Karweiwerk

Hy’t toe ’n droom gehad om binne vyf jaar die eienaar van ’n suksesvolle groente-en-vrugte-stalletjie te wees. Maar hy sou dan uit sy werk moes bedank. Wat hy dan ook sommer gedoen het.

Met sy pensioengeld het hy vir hom ’n tweedehandse bakkie gekoop om die karweiwerk mee te doen.

Gou het hy natuurlik besef mens het ook fondse nodig om voorraad te koop.

En toe slaan die noodlot toe ... Hy skryf die bakkie in ’n ongeluk af.

Daarna was hy op borge aangewese. Dié het hom egter misbruik om hulle ryk te werk.

Al het hy 50% van die wins gekry, was dit hy wat in die koue en hitte op die straathoeke moes staan.

Selfs sy vriende Dallie en Kapokkie, wat hom gehelp het, moes uit daai 50% betaal word.

Tot op ’n dag toe hy besef hy verwaarloos sy eie droom om iemand anders ryk te werk!

En toe besluit hy: Tot hier toe en nie verder nie!

Van toe af loop hulle drie die pad alleen. Vincent is die wind in hul seile

Getoets

Sy smousery is nou as ’n besigheid geregistreer. Hy is geregistreer om belasting te betaal en by sy werkers word selfs UIF afgetrek.

Maar dit was juis in die corona-virus-tyd, veral op vlak 5 en 4, dat hulle behoorlik getoets is.

Hulle kon toe nie smous nie. Hulle kon nie gaan aankope doen nie. En die voorraad wat hulle gehad het, en toe nie kon verkoop nie, moes aan mense met kosgebrek uitgedeel word.

Die laaste drie jaar werk hulle naby die Erica Square-winkelsentrum in Belhar, net agter die Sasol-vulstasie. Hulle het ’n permit (van die eienaar) om daar te smous.

Vincent is vandag ’n trotse en gelukkige man.

Hy is nog nie dáár nie, maar om bekostigbare produkte aan sy getroue ondersteuners te voorsien, bly sy grootste strewe.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters